Nuus 17:00
BULLETIN 26 Maart 5 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# President Ramaphosa verwelkom die VN-Veiligheidsraad se resolusie vir ’n skietstilstand in Gaza
# Die OVK stel kandidatelyste beskikbaar vir besigtiging en besware
# En, rugby: Die Stormers verander sy leierskapstruktuur ná Red Disa se oorname
# President Cyril Ramaphosa het die Verenigde Nasies se Veiligheidsraad se aanvaarding van Resolusie 2728 verwelkom, wat ‘n onmiddellike wapenstilstand in die Gaza-strook vereis tydens die heilige maand Ramadan. Ramaphosa se woordvoerder, Vincent Magwenya, sê hierdie besluit is ‘n belangrike stap in die rigting om ‘n stewige grondslag te skep vir ‘n permanente wapenstilstand sowel as die hervatting van onderhandelings:
# Die Onafhanklike Verkiesingskommissie het kandidatelyste vir die komende verkiesing gepubliseer, met 14-duisend-662 kandidate vir 887 setels. Die besigtiging van lyste en besware is oop tot môre. Daar is 42 kandidate wat op verskeie partylyste verskyn. Die grootste stembrief, met 56 deelnemers op, is vir die Nasionale Vergadering se setels wat volgens partye se steun toegewys word. Gauteng het die grootste streekstembrief, met 40 partye en twee onafhanklike kandidate, terwyl Limpopo die meeste onafhanklike kandidate het, naamlik drie. Die finale kandidatelys sal op 10 April verskyn.
# Die Inligtingsreguleerder is bekommerd oor universiteite en staatsdepartemente se nakoming van wette oor persoonlike inligting. Die reguleerder het op ‘n nuuskonferensie gepraat oor die bevindings van hoëprofiel-ondersoeke ingevolge die Wet op die Bevordering van Toegang tot Inligting, en die Wet op die Beskerming van Persoonlike Inligting. Die voorsitter, Pansy Tlakula, sê slegs ‘n klein gedeelte van universiteite het hul voldoeningsverslae ingedien soos deur die wet vereis, met tekortkominge wat opgemerk is by aangewese inligtingsbeamptes en met die beskikbaarheid van handleidings:
# Die Kwartaallikse Indiensnemingstatistieke-opname wat Statistieke Suid-Afrika vrygestel het, toon 98-duisend poste is in 2023 in die formele nie-landbousektor bygevoeg. Werksgeleenthede het in die vierde kwartaal verlede jaar met 194-duisend afgeneem. Die gemeenskapsdienstebedryf het die hoogste aantal werksverliese ervaar, gevolg deur die boubedryf en die sakedienstebedryf. Werksgeleenthede is bygevoeg in die handel-, vervoer- en elektrisiteitsbedryf. Die algehele bruto verdienste wat betaal is aan werknemers, het van die derde tot die vierde kwartaal verlede jaar met 5,8-persent toegeneem.
# Rugby: Die Stormers het hul leierskapstruktuur verander, met die afrigter John Dobson wat as direkteur van rugby aangestel is, en Johan le Roux as uitvoerende hoof. Die volg op die Red Disa-konsortium se onlangse verkryging van die beherende belang in Westelike Provinsie Rugby. Le Roux is ‘n groot rolspeler binne die konsortium. Hy sal bygestaan word deur die ervare administrateur, Rob Wagner, wat tydelik met die bedryfs-aspekte van die onderneming sal help. Le Roux sê die Stormers het die potensiaal om ‘n wêreldleier te word.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-91-sent teen die dollar, 20-rand-52-sent teen die euro en 23-rand-91-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 70-duisend-813-dollar-72-sent. Die prys van goud is twee-duisend-188-dollar-65-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 86-dollar-20-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….