Nuus 17:00
BULLETIN NUUSAGENTSKAP 29 November 5 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die speaker van die Nasionale Vergadering lei ‘n afvaardiging na die VN-konferensie oor klimaatsverandering
# Eerste skuldigbevinding in die onrus van Julie 2021 lei tot ‘n vonnis van 12-jaar
# En, krieket: Allan Donald is opgewonde om jong talent by die Lions af te rig
# Die speaker van die Nasionale Vergadering, Nosiviwe Mapisa-Nqakula, sal van môre af ‘n parlementêre afvaardiging lei na COP-28 in Dubai in die Verenigde Arabiese Emirate. Sleutelgebiede sluit in die beoordeling van die vordering wat gemaak is met die doelwitte van die Paryse Ooreenkoms, om voorspraak te maak vir daadwerklike vermindering van uitstralings en aandag te skenk aan finansiële hulp vir ontwikkelende lande. Die Parlement sê in ‘n verklaring die afvaardiging sluit aan by wêreldleiers om verantwoordelike en gekoördineerde optrede te toon om die klimaatkrisis aan te pak vir ‘n veiliger, welvarende toekoms.
# Die Streekhof in Pietermaritzburg, KwaZulu-Natal, het Mdumiseni Khetha Zuma tot 12-jaar tronkstraf gevonnis vir die aanhitsing van openbare geweld tydens Julie 2021 se onrus. Hy is skuldig bevind aan oortreding van die Wet op Oproerige Byeenkomste weens die vervaardiging en verspreiding van ‘n uitlokkende video oor die Brookside-winkelsentrum op WhatsApp. Die hof het getuienis van ‘n sentrumbestuurder aangehoor waarin hy die skade op ongeveer 500-miljoen-rand raam. Die Nasionale Vervolgingsgesag se woordvoerder, Natasha Ramkisson-Kara, sê dit is die eerste skuldigbevinding en vonnisoplegging vir die aanhitsing van die onrus:
# Australië se eerste minister, Anthony Albanese, beskryf die talidomide-tragedie as een van die somberste hoofstukke in die land se mediese geskiedenis. Sy amptelike verskoning in die Parlement is die eerste keer dat die regering sy aandeel aan die treurspel erken. Die middel is in die vroeë 1960’s aan swanger vroue voorgeskryf vir oggend-naarheid, en het gelei tot die dood en misvorming van duisende babas wêreldwyd. ‘n Verslag in Australië in 2019 het getoon 20-persent van die land se talidomide-gevalle kon vermy gewees het indien die regering vroeër opgetree het.
# Krieket: Die voormalige voorslag-bouler van die Proteas, Allan Donald, sê hy is baie ingenome om weer saam met die hoofafrigter van die Lions, Russel Domingo, te werk. Donald het as boulafrigter ingeval nadat hy weg is by Bangladesj. Volgens hom het die kaptein, Shakib Al Hasan se appèl oor tydverspilling teen die veteraan van Sri Lanka, Angelo Mathews, tydens die Wêreldbekertoernooi, ʼn bitter smaak in die mond gelaat. Hy sê hy sien daarna uit om met opwindende talent te werk, soos die 17-jarige Kwena Maphaka wat verlede jaar die jongste speler geword het om Suid-Afrika op die Onder-19 Wêreldbekertoernooi te verteenwoordig.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-49-sent teen die dollar, 20-rand-32-sent teen die euro en 23-rand-50-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 38-duisend-251-dollar-30-sent. Die prys van goud is twee-duisend-en-42-dollar-47-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 82-dollar-52-sent per vat.
# Om mee af te sluit: NotInMyName International se leier, Siyabulela Jentile, verwelkom die uitkomste van die derde Manskonferensie oor Positiewe Manlikheid van die Afrika-unie om geweld teen vroue en meisies te beëindig. Dit sluit in die ooreenkoms om te verseker die geskiedkundige en strukturele aanhitsers van geweld teen vroue en meisies op die kontinent, word geïdentifiseer en aangepak. Jentile sê die konferensie het verder ooreengekom om die nodige hulpbronne te voorsien om aandag te skenk aan geslagsgeweld en vrouemoord en om volhoubaarheid te verseker met nasionale begrotingstoewysings:
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….