NUUSFLITS NUUSAGENTSKAP 10 Februarie 5 nm
Goeiemiddag,
In die bulletin:
# Denel bereik ooreenkoms met Stad Tshwane ná kragtoevoer afgeskakel word
# Internasionale Betrekkinge ontken die Stad Tshwane se bewerings oor ‘n onbetaalde elektrisiteitsrekening
# En rugby: Bosch en Notsche skuif van die Haaie se Curriebeker-span na die Verenigde Rugbykampioenskap-span
# Denel het bevestig die Stad Tshwane het die kragtoevoer na die wapenvervaardiger se Lyttelton-kampus herstel, nadat die elektrisiteit gister afgeskakel is weens uitstaande munisipale rekeninge. ‘n Woordvoerder, Pam Malinda, sê die kampus het ‘n betalingsooreenkoms met die metro aangegaan om sy skuld af te betaal. Die stad het hierdie week op verskeie plekke die kragtoevoer afgeskakel en etlike staatsdepartemente en sake-ondernemings genoem wat uitstaande rekeninge het.
Intussen sê die Departement van Internasionale Betrekkinge en Samewerking hy is ontsteld oor die nuus wat daarop dui dié department skuld die Stad Tshwane miljarde rand aan onbetaalde elektrisiteitsrekeninge. Woordvoerder Clayson Monyela sê die departement se rekeninge is op datum en daar is geen uitstaande bedrae nie. Hy sê hulle het die stad verskeie kere probeer kontak en moedig die munisipaliteit aan om afskrifte te voorsien van uitstaande fakture verskuldig deur die departement en diplomatieke instansies. Die departement het die stad gevra om sy media-verklarings terug te trek.
# Die Polisie- en Gevangenisse-vakbond, Popcru, sê sommige polisiebeamptes ly aan diepgewortelde onderliggende uitdagings. Dit volg nadat ‘n polisiebeampte van Ekurhuleni gister by die Tembisa-hospitaal sy lewensmaat doodgeskiet en homself gewond het. Popcru se woordvoerder, Richard Mamabolo, sê die vakbond veroordeel die voorval omdat sulke dade die polisie se beeld skend:
Speel klankgreep: ENG RichardMamabolo
Mamabolo het alle belanghebbendes aangemoedig om saam te werk om te verseker beamptes sien om na hul geestesgesondheid:
Speel klankgreep: ENG PoliceWellness
# Rugby: Die losskakel Curwin Bosch en die agsteman Sikhumbuzo Notshe is uit die Haaie se Curriebeker-span opgeroep om die unie te verteenwoordig in die naweek se Verenigde Rugbykampioenskaps-wedstryd teen die Bulle in Pretoria. Hulle sal op die bank wees. Die hoofafrigter, Sean Everitt, het drie veranderinge aangebring aan die opdrafspan wat verlede naweek teen die Stormers verloor het. Gerbrandt Grobler vervang Ruben van Heerden op slot en Henco Venter is in die plek van Jeandré Labuschagne. Marius Louw sal binne-senter speel en kaptein Lukhanyo Am skuif na buite-senter.
# Finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 15-rand-22-sent teen die dollar, 17-rand-33-sent teen die euro en 20-rand-59-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 43-duisend-927-dollar-40-sent. Die prys van goud is een duisend-828-dollar-64-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 91-dollar-93-sent per vat.
# En ten slotte: Die familie van die oorlede Amerikaanse akteur Bob Saget, het bekend gemaak hy het aan ‘n toevallige hou teen die kop gesterf. Die ster van die sitkom Full House is vroeg verlede maand in ‘n hotelkamer in Florida dood gevind. Hy het pas met ‘n toer as komediant begin. Die familie sê dis amptelik bevind dat hy weens ‘n kopbesering gesterf het en daar was geen dwelmmiddels of alkohol betrokke nie. Hy moes sy agterkop per ongeluk teen iets gestamp het, maar was nie bekommerd daaroor nie en het gaan slaap. Hy was 65-jaar oud.
Vir die jongste nuusgebeure, bly ingeskakel op ……………….