Follow Us
Ampstaf en artefakte is uit die brand by die Parlement gered [KLANK]
Thu 6th Jan 2022
Verdagte wat sy vriendin se minnaar na bewering doodgesteek het sal weer volgende maand in ‘n Vrystaatse hof verskyn
Thu 6th Jan 2022
Print Friendly, PDF & Email

NUUSFLITS NUUSAGENTSKAP 6 Januarie 5 nm

Goeiemiddag,

In die bulletin:

# Kaapstadse brandweer oorhandig parlementsgebou aan die Valke vir ondersoek
# Rusland stuur valskermsoldate na Kazakstan om ‘n landwye opstand te stuit
# En in rugby: Gqoboka is gereed om vanjaar sy beste vir die Bulle te lewer

# Verskeie spanne van Kaapstad se Brand- en Reddingsdienste het hulle van die Parlement onttrek en die gebou aan die Valke oorhandig. Die Parlement se voorsittende beamptes het bevestig dat al die nodige werk afgehandel is om die brand onder beheer te bring en dat hulle tevrede is met die algehele vordering. Die brandbestryders het sedert die tweede brand Dinsdag op die toneel gebly. ‘n Parlements-woordvoerder, Moloto Mothapo, sê ondersoeke na die oorsaak kan nou begin:

Speel klankgreep: ENG-MolotoMothapo

# Die teen-apartheidsaktivis, lord Peter Hain, het ‘n oproep gedoen op die Britse premier, Boris Johnson, om alle regeringskontrakte met die maatskappy,  Bain and Company, op te skort, totdat die maatskappy ingestem het om met die Suid-Afrikaanse regering saam te werk in die ondersoek na bewerings teen die maatskappy, vervat in die Staatskapingsverslag. Hain sê in ‘n onderhoud met die SAUK, Bain and Company moet die betaling van meer as 170-miljoen rand wat hy van die Suid-Afrikaanse Inkomstediens ontvang het, terugbetaal:

Speel klankgreep: ENG Lord Hains

# Die Nasionale Departement van Landbou sê 74,6-miljoen rand is reeds bestee om te probeer om die sprinkaanplaag wat verskeie dele van die Oos-Kaap raak, hok te slaan. In ‘n brief aan die Parlement sê die departement die koste sluit in die aanstelling en opleiding van kontrakteurs, die koste van insekdoders en verwante veiligheidsmateriaal. Die Departement van Landbou vra die publiek om die ligging van sprinkane aan te meld as hulle dit sien. Die plaag is beskryf as die ergste sedert 1984.

# Rusland het valskermsoldate na Kazakstan gestuur om ‘n landwye opstand te stuit nadat dodelike geweld in die streng-beheerde voormalige Sowjet-staat uitgekring het. Die polisie sê hulle het dosyne oproeriges in die hoofstad Almaty doodgeskiet. Staatstelevisie sê 13 veiligheidsmaglede is dood, waarvan twee onthoof is. Reuters-joernaliste in Almaty sê ‘n presidentswoning en die burgemeester se kantoor is aan die brand. Militêre personeel het die stad se lughawe van betogers teruggeneem. Internetdiense landwyd is gesny. Die onrus het begin as betogings teen stygende brandstofpryse, maar het uitgekring na betogings teen die regering.

# Rugby: Die stut van die Bulle, Lizo Ggoboka, sien uit na ‘n produktiewe jaar, ná ‘n ietwat-uitdagende 2021. Die staatmaker-voorry het erken dat beserings vroeg verlede jaar hom frustreerd gelaat het. Dit het hom ook effens teruggehou. Hy het gereeld met beserings gesukkel en kon nie eers in ses agtereenvolgende wedstryde uitdraf nie. Hy is nietemin nou in ‘n goeie fisieke toestand en gereed om sy volle gewig agter die Bulle in te gooi.

# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 15-rand-73-sent teen die dollar, 17-rand-81-sent teen die euro en 21-rand-29-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 42-duisend-919-dollar-20-sent. Die prys van goud is een duisend-790-dollar-30-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 81-dollar-92-sent per vat.

Vir die jongste nuusgebeure, bly ingeskakel op ……………….

Our team is here to answer your questions. Editorial questions? Chat to the Editor on duty Free Trial or general questions? Chat to Debbie Technical issues? Chat to our Tekkie
WeCreativez WhatsApp Support
Free Trial / General Enquiries
Debbie Oosthuizen: GM
Away
WeCreativez WhatsApp Support
Editor on duty
Peet Bothma
Away
WeCreativez WhatsApp Support
Editor on duty
Andries Cornelissen
Away
WeCreativez WhatsApp Support
Editor on duty
Lusanda Bill
Away
WeCreativez WhatsApp Support
Technical Support
Tekkie
Away
WeCreativez WhatsApp Support
Editor on duty
Mariana Vos
Away