Nuus 16:00
BULLETIN 25 Maart 4 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die Wysigingswetsontwerp op Elektrisiteitsregulering wag op goedkeuring van die Raad van Provinsies
# Opknapping van Suid-Afrika se immigrasiestelsel word geëis nadat 69 ongedokumenteerde buitelanders ontsnap
# En, tennis: Alcaraz droom van ‘n wedywering soos dié van Roger en Rafa
# Die minister van Elektrisiteit, Kgosientsho Ramokgopa, sê die Wysigingswetsontwerp op Elektrisiteitsregulering het gevorder tot by die Nasionale Raad van Provinsies. Hy het op ‘n nuuskonferensie klem gelê op die vernuwende uitwerking daarvan, wat elektrisiteitsopwekking en -verkope deur ‘n transmissiestelsel-operateur onder die Nasionale Transmissiemaatskappy moontlik sal maak. Dit is gemik op regverdige behandeling vir alle elektrisiteitsopwekkers en nie-diskriminerende toegang tot die nasionale netwerk. Ramokgopa sê dit sal die ekonomie en verbruikers bevoordeel:
# Politieke partye eis ‘n hersiening van Suid-Afrika se immigrasiestelsel nadat 69 ongedokumenteerde buitelandse burgers uit die Lindela-repatriasiesentrum in Gauteng ontsnap het. Die IVP se woordvoerder, Liezl van der Merwe, sê dis noodsaaklik om dringend op te tree, en verwys na ‘n ineenstorting in die bestuur van onwettige immigrasie. Die ActionSA-lid, Lerato Ngobeni, het soortgelyke kommer uitgespreek en gevra vir deeglike personeeloorsigte en ‘n opgeknapte benadering tot deportasiesentrums. Binnelandse Sake het beloof om die ontsnapping te ondersoek en onderliggende kwessies rondom geriewebestuur en sekerheid aan te pak.
# Die vierde beskuldigde in die verdwyning-saak van Joslin Smith aan die Weskus het haar borgtogaansoek laat vaar. ‘n Buurvrou van die gesin, Lourentia Lombaard, het vanoggend in die Landdroshof in Vredenburg verskyn op aanklagte van mensehandel en ontvoering. Die sesjarige meisie het vandag vyf weke gelede by haar huis in die Middelpos-informele nedersetting in Saldanhabaai verdwyn. Lombaard se saak is tot 13 Mei uitgestel, wanneer sy saam met Joslin se ma, Kelly, haar kêrel en nog ‘n man in die hof sal verskyn.
# Donald Trump kom vandag in New York te staan teen twee regskrisisse. Die 77-jarige eiendomsmagnaat en Republikeinse presidentskandidaat is reeds swaar boetes opgelê in twee siviele sake. In sy sakebedrogsaak moet sy regsverteenwoordigers vandag bewys hy kan betalings waarborg van die boete van 8,6-miljard-rand, of te doen kry met beslaglegging op van sy bates. Afsonderlik sit ‘n strafregtelike hof in Manhattan vandag om ‘n nuwe datum te bepaal in sy geskiedkundige verhoor oor betalings aan die pornografie-ster Stormy Daniels.
# Tennis: Die wêreld nommer-twee, Carlos Alcaraz, sê hy droom om deel te wees van ‘n wedywering soos dié tussen Roger Federer en Rafael Nadal. Die tweestryd tussen die Switser en die Spanjaard word as die grootste nog beskou. Alcaraz, ook van Spanje, sê dit het hom geleer jy moet altyd jou spelpeil verhoog. Hy en die Italianer, Jannik Sinner, word tans as die opwindendste nuwe geslag-spelers beskou, met albei wat vier van hul agt vorige kragmetings gewen het. Hulle kan volgende in die Miami Ope teen mekaar speel.
# En, die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-96-sent teen die dollar, 20-rand-53-sent teen die euro en 23-rand-96-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 66-duisend-786-dollar-67-sent. Die prys van goud is twee-duisend-170-dollar-51-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 85-dollar-14-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….