Nuus 16:00
BULLETIN 22 Maart 4 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die Valke en die Nasionale Vervolgingsgesag bevestig inhegtenisnemings in die Steinhoff-saak
# Die DA bevraagteken die befondsing van die BELA-wetsontwerp
# En, kommer heers oor die toename in geslagsgeweldsake waarby e-taxibestuurders betrokke is
# Die Valke en die Nasionale Vervolgingsgesag het bevestig lasbriewe is uitgereik vir die inhegtenisneming van Markus Jooste en Stephanus Johannes Grobler in verband met die Steinhoff-skandaal. Die lasbriewe is Woensdag uitgereik vir beweerde bedrog, rampokkery en die oortreding van die Wet op Finansiële Markte, rakende Steinhoff International Holdings. Grobler het vanoggend in die hof verskyn, terwyl Jooste gister sy eie lewe geneem het nadat hy van die lasbrief verneem het. Uitgangsroetes uit die land is vroeër beveilig om te verhoed dat die verdagtes vlug, voordat die verdediging oor die inhegtenisnemingsbevele ingelig is.
# Die DA het die Departement van Basiese Onderwys se befondsing van die Wysigingswetsontwerp op Basiese Onderwyswette gekritiseer. Dit volg ná ‘n inligtingsvergadering deur die Finansiële en Fiskale Kommissie aan die Wes-Kaapse staande komitee oor Onderwys waartydens ernstige finansiële gevolge uitgelig is. Die kommissie het betekenisvolle gapings in die departement se kostebepaling gevind en reken nuwe befondsing van minstens 17,7-miljard-rand is nodig. Die DA se provinsiale onderwyswoordvoerder, Deidré Baartman, beklemtoon die gebrek aan hulpbronne om die BELA-koste te dek:
# Die Marshalltown Fire Justice Campaign bepleit ‘n massavergadering môre om die Khampepe-kommissie se voortgesette verhore oor die brand in die Usindiso-gebou te bespreek. Die president van die vakbond Giwusa, Mametlwe Sebei, sê die brand, wat 77 lewens geëis het, beklemtoon ingewortelde behuisingsmislukkings. Hy sê die vergadering sal aandag skenk aan die kommissie se verslae, die behuisingskrisis in Johannesburg, landwye mobilisering vir behuisingsregte en pogings om aanspreeklikheid en geregtigheid vir slagoffers te eis:
# Die Kommissie vir Geslagsgelykheid is ontsteld oor die toename in geslagsgeweldsake waarby e-taxibestuurders betrokke is. Die voormalige Bolt-bestuurder, Emmanuel Mudau, is onlangs twee lewenslange vonnisse plus 60-jaar opgelê vir die verkragting en ontvoering van vroulike passasiers. Mudau het passasiers geteiken wat die Bolt-toepassing vanaf Cosmo City in Johannesburg gebruik het, en het en tussen Januarie en Februarie 2022 verskeie misdade gepleeg. Die kommissie vra passasiers om sulke voorvalle aan te meld, en sê sommige e-diensverskaffers het wel die polisie bygestaan met hul ondersoeke.
# Rugby: Die Haaie pak Ulster môre in Durban in ‘n Verenigde Rugbykampioenskap-kragmeting, wat ‘n ommekeer vir hulle teleurstellende seisoen kan beteken. Lukhanyo Am sal die span aanvoer teen die Ierse reuse. Die Wêreldbeker-wenner Vincent Koch sal van die bank af sy buiging vir die Haaie maak. Die Springbok Ox Nché is ook op die bank. Die SA Rugbyspeler van die Jaar, Eben Etzebeth, se slotmaat is Gerbrandt Grobler. Curwin Bosch en Francois Venter sal waarskynlik ook van die plaasvervangerbank af opdraf.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-97-sent teen die dollar, 20-rand-54-sent teen die euro en 23-rand-92-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 64-duisend-334-dollar-48-sent. Die prys van goud is twee-duisend-173-dollar-8-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 85-dollar-90-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….