Nuus 16:00
BULLETIN 18 Maart 4 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Meer bronne is nodig vir Hoofstuk 9-instellings om die regte van Suid-Afrikaners te beskerm
# Die speaker van die Nasionale Vergadering staan vroueregte voor as menseregte
# En, rugby: Kaartjies is nou te koop vir die Leeus se toer deur Australië in 2025
# Die minister van Justisie, Ronald Lamola, glo meer bronne is nodig vir Hoostuk 9-instellings om die regte van Suid-Afrikaners te beskerm. Hy het gepraat terwyl die menseregtekonferensie besin oor Suid-Afrika se 30-jaar van demokrasie. Lamola erken ondanks baie prestasies en mylpale, is nie genoeg gedoen om die instellings te steun in die handhawing van die handves van regte nie. Hy erken die probleme spruit uit fiskale beperkings:
Die speaker van die Nasionale Vergadering, Nosiviwe Mapisa-Nqakula, het op konferensie die belangrikheid beklemtoon van die erkenning van vroueregte as menseregte. Sy het die ekonomiese ongelykheid uitgelig wat vroue raak, met geslagsgeweld steeds ‘n belangrike uitdaging. Mapisa-Nqakula moedig samewerking aan teen geslagsongelykheid, wat insluit die loongaping en beperkte voortplantingsregte, veral vir vroue in landelike gebiede en informele nedersettings:
# Die Wes-Kaapse LUR vir Polisie-oorsig en Gemeenskapsveiligheid, Reagen Allen, het sy tevredenheid uitgespreek oor die inhegtenisneming van die 32-jarige Lourentia Lombaard, in verband met die verdwyning van die ses-jarige Joslin Smith. Lombaard het in die Landdroshof in Vredenburg verskyn op aanklagte van ontvoering en mensehandel. Allen het die vier beskuldigdes, insluitend Joslin se ma, Kelly, versoek om bekend te maak waar Joslin is nadat sy vier weke gelede verdwyn het:
# Die globale teen-armoede liefdadigheid Oxfam sê Israel belemmer opsetlik humanitêre bystand aan Gaza, en verbreek internasionale humanitêre wette. Volgens die organisasie keer Israel stelselmatig hulp-aflewering aan die Palestynse gebied, ondanks ‘n noodbevel deur die Internasionale Geregshof. Hulle kritiseer Israel vir die katastrofiese toestand in Gaza en omdat hy nie burgerlikes beskerm nie. Oxfam veroordeel Israel se ondoeltreffendheid met hulp-inspeksies en die arbitrêre verwerping van noodsaaklike items. Die liefdadigheid waarsku oor ernstige gevolge, met 1,7-miljoen Palestyne wat kan honger ly.
# Rugby: Kaartjies is nou te koop vir volgende jaar se toer van die Britse en Ierse Leeus deur Australië. Die toer skop af teen Western Force in Perth op 28 Junie en bestaan uit nog agt wedstryde, wat drie toetse insluit teen die Wallabies. Daar is nog onsekerheid oor die wedstryd teen die Melbourne Rebels, wat tans onder administrasie is. Rugby Australië het nog net gewaarborg dat hulle vanjaar se Super Rugby-veldtog sal voltooi.
# En, die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-87-sent teen die dollar, 20-rand-57-sent teen die euro en 24-rand-5-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 68-duisend-341-dollar-27-sent. Die prys van goud is twee-duisend-161-dollar-23-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 85-dollar-73-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….