Nuus 16:00
BULLETIN 15 Maart 4 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# President Ramaphosa stel Kganyago weer aan as president van die Reserwebank
# AfriForum dreig met regstappe teen die BELA-wetsontwerp
# En, McDonald’s is van lyn af in ten minste vyf lande
# President Cyril Ramaphosa het Lesetja Kganyago heraangestel as president van die Suid-Afrikaanse Reserwebank vir ‘n vyf-jaar-termyn vanaf 9 November. Nomfundo Tshazibana en Rashad Ismail Cassim is ook heraangestel as adjunkte, vanaf 1 Augustus. Die Presidensie se woordvoerder, Vincent Magwenya, sê nuwe aanstellings sluit in Mampho Modise as die nuwe adjunk-president vanaf die eerste van volgende maand. Modise vervang Kuben Naidoo wie se ampstermyn verlede jaar geëindig het.
# Die Democratic Union Party doen ‘n beroep dat alle ondernemings in staatsbesit, insluitend Eskom en Denel, hersien moet word. Dit volg nadat die voorgestelde verkoop van ʼn 51-persent-aandeel in die Suid-Afrikaanse Lugdiens aan die Takatso-konsortium deur die mat geval het. Die party se sekretaris-generaal, Thapelo Makgale, sê politieke partye en georganiseerde arbeid moet saamstaan teen enige verkope of ontbinding van eiendom in staatsbesit:
# AfriForum sê president Cyril Ramaphosa se voorspraak vir moedertaalonderrig sal blote lippediens wees, totdat die Wysigingswetsontwerp op Basiese Onderwyswette geskrap word. Die burgerregte-organisasie voer aan die huidige wetsontwerp hou ‘n ernstige bedreiging in vir moedertaalonderrig, veral vir Afrikaans. Afriforum onderneem om die wetsontwerp teen te staan en voer aan dat dit mag sentraliseer en Afrikaanse skole teiken. Alana Bailey van Afriforum striem Ramaphosa en sê hulle gee skole die skuld in plaas daarvan om te erken die departement is wanfunksioneel:
# McDonald’s het klante in verskeie lande om verskoning gevra nadat ‘n stelsel-fout gelei het tot die sluiting van baie van sy kitskoskettingwinkels, met aanlyn en toepassing-bestellings wat ook nie werk nie. Lande soos Brittanje, Australië, Japan, Taiwan en Hongkong word geraak. Die groep het die versekering gegee die voorval hou nie verband met ‘n kuberveiligheidsfout nie. CNN berig daar is sowat drie-duisend McDonald’s-winkels in Japan, duisend-500 in die Verenigde Koninkryk, en meer as ‘n duisend in Australië.
# Rugby: Die Auckland Blues se voormalige skrumskakel, Billy Guyton, het Nieu Seeland se eerste beroepspeler geword wat gediagnoseer is met die afbrekende breinsiekte chroniese traumatiese enkefalopatie. Hy is verlede jaar onverwags op 33-jarige ouderdom oorlede nadat hy vyf jaar vantevore uitgetree het na verskeie voorvalle van harsingskudding. CTE, wat verbind word met herhaaldelike kopstampe in kontaksport, kan net nadoods diagnoseer word. Nieu-Seeland Rugby sê hy is bekommerd dat herhaalde kopstampe in rugby later in spelers se lewens tot CTE kan lei.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-65-sent teen die dollar, 20-rand-32-sent teen die euro en 23-rand-80-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 67-duisend-781-dollar-90-sent. Die prys van goud is twee-duisend-163-dollar-5-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 84-dollar-73-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….