Nuus 16:00
BULLETIN 13 Maart 4 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Mediclinic word vrygespreek van opsetlike rekening-manipulasie na ‘n onafhanklike ondersoek
# Die VF Plus sê die ANC se aandrang op meer befondsing is ‘n desperate stap
# En, rugby: Die Springbok Vroue berei voor vir twee toetse op hulle Europese toer
# Mediclinic is na ‘n onafhanklike ondersoek vrygespreek van opsetlike rekening-manipulasie. Geen opsetlike manipulasie of kodering is gevind nie, met foute wat toevallig was en vinnig reggestel is. Die ondersoek is aangevra na aansprake deur verklikkers, en was aanvanklik op ses hospitale gerig, met nog wat later bygekom het. Die uitvoerende hoof van Mediclinic Suider-Afrika, Greg van Wyk, erken daar was foute, maar beklemtoon die uitwerking daarvan was gering vergeleke met transaksievolume. Die hospitaalgroep skakel gereeld met mediese fondse om foute te verminder en reg te stel.
# Die Vryheidsfront Plus sê die Wysigingswetsontwerp op Verkiesingsake, soos voorgestel deur die ANC, is ‘n blatante poging om befondsing vir die regerende party te verhoog ten koste van die belastingbetaler. Die party sê hy sal die wetsontwerp teenstaan, en vergelyk dit met destydse mislukte pogings om uitgawes by Nkandla in KwaZulu-Natal te regverdig. Die party voer aan die wetsontwerp skend die Grondwet en ondermyn demokrasie. Corné Mulder van die VF Plus waarsku die ANC se optrede kan die komende verkiesing ontwrig, en onderneem om die wetsontwerp in die hof te betwis indien nodig:
# Die Verenigde State sê Suid-Afrika en die Onafhanklike Verkiesingskommissie moet besluit of waarnemers nodig is vir die verkiesing. Dit volg ná ‘n brief van die DA wat twyfel uitspreek oor die OVK se vermoë en die VSA vra om in te gryp. Die Amerikaanse ambassade het egter SA se soewereiniteit in verkiesingsprosesse bevestig, en sê hy vertrou die OVK om vrye en regverdige verkiesings te hou. President Cyril Ramaphosa het die DA gekritiseer omdat hy probeer om Amerika te beïnvloed deur bykomende waarnemers aan te vra.
# Rugby: Die Springbok Vroue is tans op ‘n Europese toer wat twee toetse insluit. Hulle het gister geoefen teen Skotland op Murrayfield in Edinburgh, en oefen Saterdag teen die Walliese Vroue in Swansea. Die Bokke speel toetse teen Spanje in Valladolid volgende Saterdag, en ‘n week later teen Amerika in Londen. Die hulpafrigter, Franzel September, is tevrede met hulle voorbereiding:
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-65-sent teen die dollar, 20-rand-41-sent teen die euro en 23-rand-89-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 73-duisend-95-dollar-60-sent. Die prys van goud is twee-duisend-163-dollar-95-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 83-dollar-3-sent per vat.
# En, die Tafelberg Nasionale Park het ‘n suksesvolle toerismeseisoen beleef, met meer as 1,7-miljoen besoekers tussen Desember en Januarie. Gewilde besienswaardighede was Kaappunt en die Tafelbergse sweefspoor. Die park het voor die vakansieseisoen aandag gegee aan veiligheidsvrese en misdade teen besoekers verminder deur samewerking met rolspelers en die herinstelling van die Tafelbergse Veiligheidsforum. Die Wes-Kaapse regering het ook hommeltuie geskenk vir lugwaarneming en reddingsoperasies. Ondanks meer as 100 brande is geen ernstige verliese aangemeld nie.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….