Nuus 16:00
BULLETIN NUUSAGENTSKAP 1 Desember 4 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die DA sê Suid-Afrikaners sal waarskynlik die vakansie in die donker deurbring
# Die S-A Weerdiens reik ‘n kennisgewing uit vir versengende hitte vandag en môre
# En, rugby: Kenia onttrek aan die Dubai Sewes weens logistieke probleme
# Die DA sê Eskom het nou bevestig hy het sy begroting vir diesel uitgeput. Die party sê Eskom se verouderde steenkoolkragstasies sukkel om genoeg krag op te wek om in die vraag te voorsien. Die afname in die gebruik van oopsiklus-gasturbines bring mee dat Suid-Afrikaners tot in die Desembervakansie steeds verhoogde vlakke van beurtkrag sal ervaar. ‘n Woordvoerder van die DA, Mimmy Gondwe, sê Eskom het volgens berigte net 3,6-miljard-rand oor om diesel te koop om die turbines aan te dryf:
# Die Suid-Afrikaanse Weerdiens het ‘n kennisgewing uitgereik vir versengende temperature in dele van die land vandag en môre. Temperature van bo 40-grade Celsius word in die Sentraal-Karoo van die Wes-Kaap verwag. Gauteng en Noordwes sal môre hittegolftoestande beleef. Hierdie patroon van verhoogde temperature sal na verwagting tot Dinsdag voortduur, wat streke soos Mpumalanga, die Vrystaat en Limpopo sal raak. Inwoners word aangeraai om die nodige voorsorgmaatreëls te tref en genoeg vloeistowwe in te neem gedurende die uiters warm weerstoestande.
# Die Mosselbaai-munisipaliteit in die Wes-Kaap maan die publiek om waaksaam te wees terwyl kontrakteurs by talle strande voortgaan met herstelwerk. Aansienlike skade is aangerig aan infrastruktuur en veral toegang tot strande in die Mosselbaai-area toe stormgolwe die gebied in September getref het. Die munisipaliteit se waarnemende bestuurder, Carel Venter, sê in die meeste gevalle is openbare toegang tot strande beskadig. Dit sluit houttrappe en staproetes langs die kus in:
Rugby: Kenia het weens logistieke oorwegings onttrek aan hierdie naweek se Dubai Sewes. Geen verduideliking is verstrek nie, maar die span ondervind na berig word probleme weens onvoldoende borgskappe en fondse, wat moontlik daartoe gelei het dat die mans- en vrouespanne hulle reis na die Verenigde Arabiese Emirate moes kanselleer. Kenia was veronderstel om aan die tweede-vlak internasionale uitnodigingstoernooi in Dubai deel te neem en nie aan die hooftoernooi nie, waaraan Suid-Afrika deelneem. Die span het reeds vir aanstaande jaar se Olimpiese Spele in Parys gekwalifiseer.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-67-sent teen die dollar, 20-rand-34-sent teen die euro en 23-rand-61-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 38-duisend-598-dollar-71-sent. Die prys van goud is twee-duisend-en-37-dollar-21-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 81-dollar-16-sent per vat.
# En laastens: Buckingham-paleis sê hy oorweeg alle moontlikhede nadat koning Charles en prins William se vrou, Catherine, uitgewys is as die twee koninklikes wat na bewering ‘n rassistiese opmerking teenoor prins Harry en sy vrou Meghan se ongebore seun gemaak het. Die name is gepubliseer in die Nederlandse vertaling van Omid Scobie se nuwe boek, Endgame, wat kort na publikasie van die rakke verwyder is. Die paleis het die bewering as fiksie beskryf nadat Harry en Meghan in 2021 tydens ‘n onderhoud gesê het twee koninklikes het voor Archie se geboorte kommer uitgespreek oor Archie se velkleur.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….