Nuus 16:00
BULLETIN NUUSAGENTSKAP 29 November 4 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die eerste skuldigbevinding in die onrus van Julie 2021 lei tot ‘n vonnis van 12-jaar
# Die Mineraleraad van Suid-Afrika vra vir strenger veiligheidsmaatreëls in myne
# En, krieket: Australië hou die T20-reeks teen Indië lewend
# Die Streekhof in Pietermaritzburg, KwaZulu-Natal, het Mdumiseni Khetha Zuma tot 12-jaar tronkstraf gevonnis vir die aanhitsing van openbare geweld tydens Julie 2021 se onrus. Hy is skuldig bevind aan oortreding van die Wet op Oproerige Byeenkomste weens die vervaardiging en verspreiding van ‘n uitlokkende video oor die Brookside-winkelsentrum op WhatsApp. Die hof het getuienis van ‘n sentrumbestuurder aangehoor waarin hy die skade op ongeveer 500-miljoen-rand raam. Die Nasionale Vervolgingsgesag se woordvoerder, Natasha Ramkisson-Kara, sê dit is die eerste skuldigbevinding en vonnisoplegging vir die aanhitsing van die onrus:
# Die Mineraleraad van Suid-Afrika doen ‘n beroep op die leierskap van die Impala Platinum-myn in Rustenburg, Noordwes, om hul veiligheidsprogramme en -maatreëls te versterk ná Maandag se dodelike voorval. Elf werkers is dood en 75 beseer toe die hysbak wat werkers na die oppervlak vervoer het, ongeveer 200-meter in die skag afgetuimel het. Japie Fullard van die raad sê die ongeluk is ‘n duidelike herinnering aan die belangrike behoefte aan onwrikbare fokus en waaksaamheid met mynveiligheid.
# Numsa eis Palestyne moet die reg hê om hul eie land te regeer. Die vakbond, wat Internasionale Dag van Solidariteit met Palestina waarneem, bepleit ‘n onmiddellike wapenstilstand. Hulle doen ‘n beroep op lede om daadwerklik aan die versetoptrede deel te neem. Numsa se woordvoerder, Phakamile Hlubi-Majola, sê die werkersklas, wat verskillende vakbonde en politieke partye verteenwoordig, sal opruk om die Gaza-volksmoord te verwerp en sanksies teen Israel te ondersteun. Hlubi-majola doen ‘n beroep op Israel om elke stukkie grond wat hy by Palestyne gevat het, terug te gee:
# Krieket: Die reeks van vyf T20-wedstryde tussen Indië en Australië is steeds lewend nadat die besoekers teruggeveg het in die derde kragmeting in Guwahati. Australië was onder druk om die reeks te red nadat die gashere die eerste twee wedstryde gewen het. Indië het ‘n verdienstelike 222 vir drie aangeteken met ʼn onoorwonne 123 lopies deur Ruturaj Gaikwad. Glenn Maxwell se onoorwonne 104 het Australië in staat gestel om die teiken van die laaste bal te bereik vir die verlies van vyf paaltjies. Die voorlaaste wedstryd word Vrydag in Raipur gespeel en die vyfde een Sondag in Bengaluru.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-48-sent teen die dollar, 20-rand-31-sent teen die euro en 23-rand-46-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 38-duisend-76-dollar-89-sent. Die prys van goud is twee-duisend-en-40-dollar-83-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 82-dollar-74-sent per vat.
# Om mee af te sluit: Die gewese Amerikaanse presidentsvrou Rosalynn Carter word vandag by haar huis in Georgia ter ruste gelê. Sy is op 96-jarige ouderdom oorlede. Carter word geloof vir haar unieke humanitêre erfenis tydens haar tyd in die Withuis. Die begrafnisdiens vind plaas in die Maranatha Baptistekerk waar haar man, Jimmy, ‘n Sondagskool-onderwyser was. Carter het vroeër uitdruklik die wens uitgespreek dat sy en die gewese president langs mekaar begrawe moet word naby ‘n dammetjie waar hulle kosbare tye deurgebring het.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….