Nuus 16:00
BULLETIN 26 April 4 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Eskom kondig ‘n Mei-energiebesparingsveldtog aan
# Die Departement van Water en Sanitasie sê die sluiting van die Lesotho Hoogland-watertonnel is noodsaaklik vir voldoende water in die toekoms
# En, Rugby: ‘n Aksiebelaaide naweek wag in die Verenigde Rugby-kampioenskapsreeks
# Die uitvoerende hoof van Eskom, Dan Marokane, het bevestig dat ‘n energiebesparingsveldtog in Mei gevoer sal word om elektrisiteitsopwekking vir die winter te versterk. Tydens ‘n media-inligtingsessie oor die stand van Eskom se kragstelsel en -netwerk en die vooruitsigte vir die winter, het Marokane benadruk gesamentlike pogings is aan die gang om beurtkrag te beëindig. Hy sê, Suid-Afrika sal indien nodig, slegs Fase 2-beurtkrag in die gesig staar dié winter, aangesien Eskom ‘n 1,3-gigawatt-vermindering in onbeplande verliese voorsien, en werk aan 382-megawatt-vraagbestuur-inisiatiewe:
# Die Departement van Water en Sanitasie sê strategiese maatreëls is in plek om te verseker gemeenskappe word nie geraak deur die beplande sluiting van die Lesotho Hoogland Watertonnel, vir roetine-inspeksie en instandhouding nie. Die departement se direkteur-generaal, Sean Phillips, sê dié proaktiewe maatreël het ten doel om toekomstige wateruitdagings vir die volgende drie dekades te bestuur. Hy sê, die sluiting wat van Oktober 2024 tot Maart 2025 sal duur, verseker optimale watervoorsiening vir Gauteng en die omliggende gebiede:
# ‘n Dertien-jarige meisie het vandag haar eerste verskyning in ‘n hof in Wallis gemaak op drie aanklagte van poging tot moord, nadat twee onderwysers en ‘n leerder by ‘n hoërskool gesteek is. Die meisie, wie se naam nie gepubliseer mag word nie, omdat sy onder 18 is, het haar naam en adres bevestig, maar het geen emosie getoon toe sy in die beskuldigdebank in die Llanelli-landdroshof verskyn het nie. Sy sal weer op 27 Mei in die hof verskyn.
# Rugby: Nog ‘n aksiebelaaide naweek is op hande in die Verenigde Rugby-kampioenskap met tuis-halfeindstryde en uitspeelplekke op die spel. Vanaand om 25 voor nege is die eerste plaaslike span in aksie wanneer die Haaie die Scarlets in Wallis pak. Die Bulle, tans vierde op die punteleer, kan ‘n taai kragmeting verwag wanneer hulle môremiddag drie-uur op Loftus teen die Ospreys uitdraf. Die Leeus kom om vyfuur in Johannesburg teen Munster te staan, wat derde is. Die Stormers, in die sesde plek, het ‘n oorwinning nodig teen die top-span Leinster in Kaapstad. Afskoptyd is seweuur.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-81-sent teen die dollar, 20-rand-17-sent teen die euro en 23-rand-53-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 64-duisend-407-dollar-23-sent. Die prys van goud is twee-duisend-346-dollar-70-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 88-dollar-53-sent per vat.
# En, om mee af te sluit: Die Universiteit van Fort Hare spog met sy eerste groep gekwalifiseerde spraak- en taalterapeute. Die Raad vir Gesondheidsberoepe van Suid-Afrika het voorheen probleme met die leerplan uitgewys wat studente wat in 2018 vir die vierjaar-graad ingeskryf het, se graduering vertraag het. Die raad het uiteindelik die kursus betyds vir die 2024-gradeplegtighede goedgekeur en 13 studente het hul grade ontvang. Die universiteit sê die gegradueerdes se vaardigheid om in Xhosa te praktiseer, is ‘n groot stap vorentoe op die gebied van spraakterapie.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….