Nuus 15:00
NUUSFLITS NUUSAGENTSKAP 10 November 3 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die Tshwane-staking is uiteindelik verby en dienste het na normaal teruggekeer
# Fase 1 van Eskom se projekte vir batterykrag-opbergingstelsels skop af
# Sokker: Chiefs en Pirates gereed vir die 178ste Soweto-derby
# Die Stad Tshwane het die hervatting van alle munisipale dienste aangekondig ná ‘n drie-maande-lange onwettige staking. Noodsaaklike funksies, insluitend vullisversameling en nutsdienste, het na normaal teruggekeer. Die meeste agterstande is ook op datum gebring. Die stadsbestuurder, Johann Mettler, het verligting uitgespreek, met verwysing na die einde van geweld en die vernietiging van eiendom. Die stad se woordvoerder, Selby Bokaba, sê voortgesette samesprekings tussen Tshwane en munisipale vakbonde Imatu en Samwu oor salarisgeskille vorder positief. Bokaba vra om verskoning vir enige ongerief tydens die ongekende staking:
Speel klankgreep:
# Eskom het amptelik die eerste van sy agt projekte vir batterykrag-opbergingstelsels in bedryf gestel. Dit is deel van die eerste fase van ‘n program wat deur die Wêreldbank befonds word om batterye met ‘n gesamentlike opbergingsvermoë van 199 megawats aan die netwerk te koppel. Die eerste projek is op Eskom se verspreidingsnetwerk in Worcester in die Wes-Kaap en gebruik batterye wat deur Hyosung van Suid-Korea verskaf word. Eskom het intussen die tweede fase waarmee hy nog 144 megawatt van ‘n batterykrag-opbergingstelsel oor vier persele wil voorsien, voorlopig uitgestel omdat hy nog op duidelikheid deur die Nasionale Tesourie wag.
# Die eiendomsmaatskappy, Lightstone, sê huiseienaars worstel met die uitwerking van stygende rentekoerse namate noodverkope van huise die hoogte inskiet. Die aantal eiendomseienaars wat binne twee jaar na aankoop verkoop, het tot 3,7-persent gestyg teenoor twee-persent in Mei van die vorige jaar. BusinessTech meen kopers wat tydens Covid-19 uit lae rentekoerse voordeel getrek het, sukkel nou om verbandterugbetalings na te kom, aangesien rentekoerse na normale vlakke terugkeer. Die volume van huisaankope deur individue het met 50-persent gedaal, en die aantal kopers wat ʼn verband op hulle eiendom uitneem, daal van 60 tot 40-persent.
# Sokker: Die grootste tweestryd op die plaaslike toneel is die Soweto-derby tussen Kaizer Chiefs en Orlando Pirates. Die 178ste Soweto-derby vind môre plaas, met beide Chiefs en Pirates wat albei in die onlangse verlede nie te waffers vaar nie, wat dit moeilik maak om ʼn uitslag te voorspel. Chiefs was drie keer in hulle laaste 10 wedstryde in alle kompetisies aan die wenkant. Die klub het verlede maand van sy sewende afrigter in agt jaar afskeid geneem en die klub se akademiehoof, Cavin Johnson, het op ‘n tussentydse basis oorgeneem. Johnson hoop van sy kant op ʼn goeie vertoning:
Speel klankgreep:
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-73-sent teen die dollar, 20-rand-2-sent teen die euro en 22-rand-89-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 36-duisend-874-dollar-90-sent. Die prys van goud is een-duisend-950-dollar-53-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 80-dollar-75-sent per vat.
# Om af te sluit: President Cyril Ramaphosa het die professor aan die Universiteit van Pretoria, Dire Tladi, gelukgewens met sy verkiesing tot regter van die Internasionale Geregshof in Den Haag deur die Verenigde Nasies. Tladi, wat deur die regering as ‘n kandidaat onderskryf is, word die eerste Suid-Afrikaner wat tot die Wêreldhof verkies word. President Ramaphosa spreek dankbaarheid teenoor die VN uit vir hul vertroue in Tladi se vermoëns. Tladi dien veral ook as die president en uitvoerende lid van die Suid-Afrikaanse tak van die Internasionale Regsvereniging.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….