Nuus 15:00
BULLETIN 22 Maart 3 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die Valke en die Nasionale Vervolgingsgesag bevestig die uitreiking van lasbriewe in die Steinhoff-saak
# ‘n Hof staan beslagleggingsbevele van 33-miljoen-rand toe in die Eskom-korrupsiesaak
# En, rugby: Die Haaie is gereed vir ‘n wedstryd teen Ulster wat ‘n ommekeer in hulle teleurstellende seisoen teweeg kan bring
# Die Valke en die Nasionale Vervolgingsgesag het bevestig lasbriewe is uitgereik vir die inhegtenisneming van Markus Jooste en Stephanus Johannes Grobler in verband met die Steinhoff-skandaal. Dit is Woensdag uitgereik vir beweerde bedrog, rampokkery en oortreding van die Wet op Finansiële Markte, rakende Steinhoff International Holdings. Grobler het vanoggend in die hof verskyn, terwyl Jooste gister sy eie lewe geneem het nadat hy van die lasbriewe verneem het. Uitgangsroetes uit die land is vroeër beveilig om te verhoed dat die verdagtes vlug voordat die verdediging oor die lasbriewe ingelig is.
# Die Hooggeregshof in Pretoria het twee finale verbeurdverklaringsbevele toegestaan ter waarde van 33-miljoen-rand, ná beweerde korrupsie by Eskom se Kusile-kragstasie. Die bates, insluitend eiendomme, grond en voertuie, word gekoppel aan voormalige Eskom- werknemers en maatskappye, insluitend Tamukelo Air Vendor, wat tussen 2012 en 2018 by onwettige bedrywighede betrokke was. Die Nasionale Vervolgingsgesag se Gautengse woordvoerder, Lumka Mahanjana, sê dié stap is deel van die Batebeslagleggingseenheid se strategie om die opbrengste van korrupsie te verhaal:
# Cosatu sê die private sektor moet sy rol speel in die wyse waarop werkers in die land behandel word. Die vakbondfederasie sê die bestuurshoofde van mynbou-, finansiële- en kleinhandels-reuse verdien daagliks honderde duisende rand, terwyl mynwerkers, banktellers en kassiere net daarvan kan droom om só ‘n bedrag binne ‘n jaar te verdien. Cosatu se waarnemende woordvoerder, Matthew Parks, sê die privaat sektor moet groter toewyding toon om in plaaslike ondernemings en produkte te belê en dit te ondersteun:
# Rugby: Die Haaie pak Ulster môre in Durban in ‘n Verenigde Rugbykampioenskap-kragmeting, wat ‘n ommekeer vir hulle teleurstellende seisoen kan beteken. Lukhanyo Am sal die span aanvoer teen die Ierse reuse. Die Wêreldbeker-wenner Vincent Koch sal van die bank af sy buiging vir die Haaie maak. Die Springbok Ox Nché is ook op die bank. Die SA Rugbyspeler van die Jaar, Eben Etzebeth, se slotmaat is Gerbrandt Grobler. Curwin Bosch en Francois Venter sal waarskynlik ook van die plaasvervangerbank af opdraf.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 19-rand-2-sent teen die dollar, 20-rand-59-sent teen die euro en 23-rand-94-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 64-duisend-810-dollar-64-sent. Die prys van goud is twee-duisend-167-dollar-49-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 85-dollar-80-sent per vat.
# En, om mee af te sluit: Kleinhandelaars in Suid-Afrika het paaseier-pryse skerp verhoog, wat talle verbruikers laat besluit het om liewer noodsaaklike lewensmiddele aan te koop. Die koste van ‘n boks met 36 Beacon-sjokolade-malvalekker-paaseiers het binne drie jaar met tot 30-rand per houer gestyg, as gevolg van hoë rentekoerse, lewenskoste-uitdagings en klimaatsverandering. Volgens ‘n Massmart-verbruikerstudie fokus verbruikers nou eerder op huishoudelike noodsaaklikhede in plaas daarvan om gedurende Paasfees sjokoladelekkernye te koop. Klimaatsverandering word ook genoem as een van die redes vir uitdagings met kakao-oeste, wat weer sjokoladeproduksie raak.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….