Nuus 15:00
BULLETIN 19 Maart 3 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die OVK voer aan die ANC het die sperdatum misgeloop om die MK-party se registrasie uit te daag
# Suid-Afrikaanse ondernemings verken Kanada as ‘n sekondêre mark vir uitbreiding te midde van verkiesing-onsekerheid
# En, krieket: Kaptein Pandya is fiks om vir Mumbai Indians in die IPL te boul
# Die Onafhanklike Verkiesingskommissie voer aan die ANC het nie daarin geslaag om die registrasie van die uMkhonto we Sizwe-party betyds te betwis nie. Die ANC daag die OVK by die Kieshof in Bloemfontein uit, om die MK-party se registrasie ongeldig te verklaar. Die ANC voer aan dit was onregmatig vir die MK-party om geregistreer te word op grond van ‘n aanvullende aansoek. Die OVK se regsverteenwoordiger, Terry Motau, waarsku teen ‘n uitspraak wat nalatigheid kan aanmoedig, en vra die hof om te keer dat die sluise vir sulke gebruike oopgemaak word:
Intussen kyk Suid-Afrikaanse ondernemings toenemend na Kanada vir uitbreiding, te midde van onsekerheid voor die komende algemene verkiesing. ‘n Kanadese immigrasie-raadgewer, Nicholas Avramis, sê daar was ‘n noemenswaardige toename van 31-persent in Kanadese werkspermitaansoeke wat in 2023 vir Suid-Afrikaners verwerk is. Avramis sê baie Suid-Afrikaners ondersoek geleenthede in die buiteland te midde van kommer oor die voortdurende ekonomiese uitdagings en potensiële politieke onsekerhede tuis. Hy beklemtoon Kanada se Aanvangsvisum-program is ‘n gewilde keuse vir vernuwende entrepreneurs wat ondernemings oorsee wil vestig.
# Suid-Afrika wil teen 2030 1,6-duisend-miljard-rand van die staat en 3,2-duisend-miljard-rand se privaat sektor-beleggings verseker om aan infrastruktuurbehoeftes te voldoen. President Cyril Ramaphosa het aan afgevaardigdes op die Volhoubare Infrastruktuurontwikkeling-konferensie in Kaapstad gesê hierdie kragdadige poging is gemik op gesondheid- en onderwys-infrastruktuurprogramme. Dit sluit in hervormings om privaat beleggings aan te moedig deur die Wet op die Verdeling van Inkomste en wysigings aan die regulasies vir openbare-privaat-vennootskappe:
# Krieket: Die Mumbai Indians se kaptein, Hardik Pandya, sê hy is fiks om te boul in vanjaar se Indiese Premierliga. Hy het sy enkel beseer tydens die eendag-Wêreldbekertoernooi in Oktober en kon sedertdien nie speel nie. Die 30-jarige neem Mumbai se kapteinskap oor by Rohit Sharma, wat Indië sal lei in die T20 Wêreldbekertoernooi in Junie. Hy sê sy nuwe leierskapsrol sal nie die verhouding tussen hom en Sharma beïnvloed nie. Die IPL begin Vrydag wanneer die verdedigende kampioen, Chennai Super Kings, die Royal Challengers in Bangalore verwelkom.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-99-sent teen die dollar, 20-rand-60-sent teen die euro en 24-rand-9-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 62-duisend-586-dollar-74-sent. Die prys van goud is twee-duisend-155-dollar-44-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 86-dollar-76-sent per vat.
# En ten slotte: Die Departement van Basiese Onderwys en die Suid-Afrikaanse Depressie- en Angsgroep, SADAG, werk saam om ‘n tiener selfdood-voorkomingstel vir skole te skep wat in September versprei sal word. Dit volg ná ‘n toename in die aantal selfdood-gevalle onder jeugdiges. Die departement se woordvoerder, Elijah Mhlanga, sê die stel is belangrik om personeel te bemagtig en leerders wat in gevaar verkeer, te identifiseer en te ondersteun. Cassey Chambers van SADAG sê die projek het ten doel om geestelike welstand en veerkragtigheid te bevorder.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….