Nuus 15:00
BULLETIN 15 Maart 3 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Microsoft waarsku oor ’n vertraging met die herstelproses van ‘n reuse ondersese kabelfout
# Amerikaanse data veroorsaak senuweeagtigheid in finansiële markte
# En tennis: Alcaraz klop vir Zverev, maar speel tweede viool teen ‘n swem bye
# Microsoft sê herstelwerk aan vier stukkende ondersese kabels, wat ontwrigting aan wolk-platforms in Suid-Afrika veroorsaak, ondervind vertragings. Die onderneming het verkeer herlei om die probleem te herstel terwyl ondersoeke aan die gang is. Die onderbreking, wat die Wes-Afrika-kabelstelsel, die Afrika-kus na Europa-, MainOne- en SAT-3-kabels raak, is veroorsaak deur ‘n reuse-onderbreking naby Abidjan in die Ivoorkus. Die presiese oorsaak van die ontwrigting bly onduidelik. Microsoft verseker gebruikers van voortdurende pogings om die uitwerking te versag, met ‘n teikendatum vir herstelwerk wat vir vandag gestel is.
# Cosatu sê die heropbou en groei van die Suid-Afrikaanse Lugdiens sal uitsonderlike leierskap en gesonde bestuur verg. Cosatu meen indien die lugdiens die regte bestuur kry, en ook beskerm word teen wat hy noem die korrupsie en wanbestuur wat die eens-beste lugredery in Afrika vernietig het, kan die lugdiens weer floreer. Cosatu se waarnemende woordvoerder, Matthew Parks, sê die vakbondfederasie sal ‘n dringende vergadering met die regering aanvra om meer insae in en betrokkenheid te kry by die SAL-sage:
# Johannesburg Water se bedryfsbestuurder, Logan Munsamy, sê die meeste van die stad se waterstelsels het verbeter en is weer in werking. Munsamy het die jongste inligting gegee oor stelsels wat geraak is deur voorvalle wat by die Eikenhof-pompstasie plaasgevind en gelei het tot ontwrigting in watertoevoer regdeur die stad. Hy sê die Kensington B-reservoir is uiters bestendig op 70-persent en die Blairgowrie-reservoir, wat water aan Randburg verskaf, is nou op 65-persent:
# Asiatiese markte het in ooreenstemming met Wall Street gedaal nadat ‘n skerper as verwagte toename in Amerikaanse groothandelpryse moontlike rentekoersverlagings ‘n knou gegee het. Die onsekerheid het Bitcoin ook laat tuimel. Die groot verandering in Februarie se produsenteprys-aanwyser volg op hoër as verwagte verbruikerspryse vroeër dié week. Dit het afsonderlike syfers oorskadu wat op ‘n verlangsaming in kleinhandelverkope dui. Dit volg na die oorskatting van data vir Januarie en sal waarskynlik ongemak veroorsaak voor die Amerikaanse Federale Reserwe se volgende beleidsbesluit volgende week.
# Tennis: Carlos Alcaraz se wedstryd teen Alexander Zverev op die Indian Wells-ope is onderbreek toe ‘n swerm bye die baan ingeval het. Alcaraz het Zverev maklik verslaan, maar tweede gekom teen die bye toe hulle die kragmeting vir omtrent ‘n uur vertraag het. Hy is op die voorkop gesteek voor die spelers en die skeidsregter ‘n lyn gesny het kleedkamer toe. Die bye het later ewe tevrede rondom die spinnekop-kamera saamgedrom voor ‘n plaaslike byeboer hulle verwyder het.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-67-sent teen die dollar, 20-rand-31-sent teen die euro en 23-rand-82-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 67-duisend-196-dollar-74-sent. Die prys van goud is twee-duisend-166-dollar-57-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 84-dollar-98-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….