Nuus 15:00
BULLETIN 14 Maart 3 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die maatskaplike verligtingstoelaag van 350-rand word volgende maand met 20-rand verhoog
# Die kabinet steun die beëindiging van die ooreenkoms tussen SAL en die Takatso-konsortium
# En, tennis: Die topgekeurde Swiatek speel teen die voormalige wêreld nommer een, Wozniacki
# Die minister van Finansies, Enoch Godongwana, sê die 350-rand toelaag vir maatskaplike noodhulp sal van die eerste van volgende maand verhoog word met 20-rand. Hierdie besluit volg ná president Cyril Ramaphosa se verbintenis om die toelae uit te brei en te verbeter, sedert dit in Mei 2020 bekendgestel is. Dit is aanvanklik ingestel om die armstes tydens die Covid-19-pandemie te ondersteun. Dit help nou sowat nege-miljoen mense teen ‘n koste van 33,6-miljard-rand. Ander maatskaplike toelaes sal ook verhoog word, insluitend die ouderdomstoelaag, kinderondersteuningstoelaag en ongeskiktheidstoelaag.
# Die minister in die Presidensie, Khumbudzo Ntshavheni, sê die kabinet steun die beëindiging van die Suid-Afrikaanse Lugdiens se vennootskap met die Takatso-konsortium. Die besluit is geneem na amper drie jaar se onderhandelings met Takatso as ‘n private aandelevennoot vir SAL. Ntshvheni het die media ingelig oor die uitkoms van ‘n kabinetsvergadering en gesê met ‘n openbare bate moes die regering regverdige waarde en die openbare belang voorop stel:
# Die Gedragsowerheid vir die Finansiële Sektor is bekommerd oor die oorheersende fokus op aanvanklike toegang tot aftreefondse, en moedig die sektor aan om lede volledige inligting te gee. Kommissaris Unathi Kamlana het gepraat op die owerheid se nywerheids-konferensie en die verantwoordelikheid beklemtoon om lede in te lig oor die uitwerking van onttrekking sodat ingeligte besluite geneem word. Kamlana dring aan onttrekking behoort net gedoen te word vir noodsaaklikhede, omdat aftreefondse bedoel is vir aftree-doeleindes:
# Tennis: Wêreld nommer een Iga Swiatek pak die voormalige nommer een, Caroline Wozniacki van Denemarke, vanaand in die kwarteindstryd op die Indian Wells-ope. Hulle enigste vorige ontmoeting was in 2019. Die 33-jarige Wozniacki het in Januarie 2020 uitgetree, maar verlede Augustus teruggekeer na die geboorte van haar twee kinders. Die 22-jarige Swiatek van Pole sê sy verwag ‘n taai kragmeting:
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-61-sent teen die dollar, 20-rand-37-sent teen die euro en 23-rand-85-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 72-duisend-798-dollar-41-sent. Die prys van goud is twee-duisend-170-dollar-12-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 84-dollar-56-sent per vat.
# En ten slotte: Rotte wat ‘n bewysekamer in ‘n vervalle polisiekantoor in New Orleans ingedring het, vier fees op dagga waarop beslag geneem is. Volgens polisie-superintendent Anne Kirkpatrick is die verouderde kantore so vervalle en vol plae dat die knaagdiere by die geslote kamer kon inkom. Sy het aan stadsraadslede gesê die rotte is almal in ‘n beswyming. Baie mense ondervind ‘n gevoel van ontspanning en euforie met die dwelm, en dit gebeur waarskynlik ook met die rotte.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….