Nuus 15:00
BULLETIN NUUSAGENTSKAP 27 November 1 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die Polisie begin met ‘n soektog nadat vier familielede in Hluhluwe, KZN vermoor is
# Die SA Weerdiens waarsku oor baie warm toestande
# En, Krieket: Pandya keer terug na Mumbai vir I-P-L 2024
# Die polisie in KwaZulu-Natal ondersoek ‘n saak van moord nadat vyf gewapende verdagtes in die vroeë oggendure ‘n woning binnegedring en vier familielede noodlottig geskiet het. Die slagoffers sluit in, ‘n 64-jarige man, sy vrou, hul 32-jarige seun en ‘n 19-jarige nefie. ‘n Buurvrou, wat glo ‘n vriendin van een van die oorledenes is, is in die bene geskiet en sterk tans in die hospitaal aan. Die polisiewoordvoerder, Robert Netshiunda, sê dit is die tweede voorval in dieselfde huis binne ‘n jaar:
# Die Suid-Afrikaanse Weerdiens sê ‘n langdurige hittegolf sal na verwagting vandag oor verskeie streke voortduur. Dit sal na verwagting baie warm wees in Gauteng, die Oos-Kaap, die Vrystaat en die Noord-Kaap. Die weerdiens waarsku verder teen ‘n verhoogde risiko van veldbrande weens uiters gevaarlike toestande vir brande in Limpopo, die Oos-Kaap, die Wes-Kaap en die Noord-Kaap. Die publiek word sterk gemaan om vloeistof in te neem, langdurige blootstelling aan die intense hitte te vermy, waaksaam te wees en te hou by die advies van plaaslike owerhede.
# Namibië verwag ‘n afplatting in groei van die bruto binnelandse produk en verwag vanjaar 3,3-persent groei en 2,8-persent in 2024, wat ‘n daling is vanaf 4,6-persent in 2022. Die ekonoom van FNB Namibië, Ruusa Nandago, skryf die afname toe aan droë weerstoestande. Nandago sê die amptelik verklaarde droogte sal na verwagting vanjaar groei belemmer, wat indiensneming en uitset in die landbousektor beïnvloed, met bykomende druk op voedselpryse:
# Krieket: Die veelsydige Indiese speler, Hardik Pandya gaan weer vir Mumbai Indians speel in volgende jaar se weergawe van die Indiese Premierliga. Hy het in 2015 sy IPL-debuut in die span gemaak. Mumbai het Pandya by die Gujarat Titans oorgeneem vir sy bestaande spelersfooi van 33,8-miljoen-rand nadat hy Gujurat in 2022 in hulle debuutseisoen tot die titel aangevoer het. Die span was vroeër vanjaar die naaswenners. Die Indiese aanvangskolwer Shubman Gill is Gujarat se nuwe kaptein. Pandya vervang die Australiër, Cameron Green, wat by Royal Challengers Bangalore aansluit.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-66-sent teen die dollar, 20-rand-44-sent teen die euro en 23-rand-56-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 37-duisend-123-dollar-32-sent. Die prys van goud is twee-duisend-12-dollar-69-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 79-dollar-25-sent per vat.
# Om mee af te sluit: Die George-munisipaliteit in die Wes-Kaap nooi restaurante, kroeë en kafees om gereed te maak vir ‘n somer van Al Fresco– uiteet. Die munisipaliteit bied gratis sypaadjiepermitte aan gasvryheidsondernemings en bied restaurante bykomende vloerruimte om hul tafels buite te sit. Ondernemings kan vanaf 15 Desember tot 19 Januarie gratis aansoek doen vir ‘n lisensie om besoekers buite te bedien. Die stad wil die gasvryheidsbedryf ‘n hupstoot te gee deur voordeel te trek uit die warmer weer en sakeondernemings se herstelproses te ondersteun deur ‘n feestelike atmosfeer te skep en groter vermoë te bied.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….