Nuus 15:00
BULLETIN NUUSAGENTSKAP 24 November 3 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Oscar Pistorius kry parool, maar sal Kersfees agter tralies deurbring
# Die DA sê die ANC plaas provinsies in ‘n onmoontlike finansiële posisie
# en Krieket: Laura Wolvaardt word as die voltydse kaptein van die Protea-vrouespan aangestel
# Oscar Pistorius is parool toegestaan, maar gaan nog ‘n Kersfees agter tralies deurbring. Die besluit volg op ‘n evaluering deur Korrektiewe Toesig en die Paroolraad nadat sy vonnis vir strafbare manslag in 2014, in 2017 tot 13 jaar en vyf maande verleng is. Hy is ‘n eerste oortreder met sterk ondersteuning en Pistorius se vrylating is in ooreenstemming met Artikel 73 van die Wet op Korrektiewe Dienste. Sy parool word op 5 Januarie 2024 van krag en hy sal die res van sy vonnis onder korrektiewe toesig voltooi. Die tydfaktor beteken hy gaan die komende feestyd in die tronk deurbring.
# Die DA in die Wes-Kaap sê hy is heftig gekant teen die Nasionale Tesourie se voorgestelde besnoeiings aan die provinsie se begroting soos onthul in die Wysigingswetsontwerp op die Verdeling van Inkomste. Die uitwerking van die openbare sektor se salarisverhoging, wat met die Nasionale Tesourie ooreengekom is, beteken ‘n verhoging van 2,9-miljard-rand in die provinsie se salarisrekening. Die DA-lid, Deidré Baartman, sê hulle het slegs ‘n bykomende 1,7-miljard-rand aan die provinsie toegeken deur die provinsiale billike aandeel, wat beteken die provinsie sal 1,2-miljard-rand binne sy huidige begroting moet vind:
# Die Wêreldgesondheidsorganisasie, die Wêreld Intellektuele Eiendomsorganisasie en die Wêreldhandelsorganisasie vra lande om lesse wat geleer is uit die Covid-19-pandemie toe te pas in dringende dwarssektorale pogings om mense teen toenemende klimaatbedreigings te beskerm. Die organisasies het die tiende Gesamentlike Tegniese Simposium gehou onder die tema, ‘n Toekomsblik: Menslike Gesondheid en Klimaatsverandering. Die direkteur-generaal van die WGO, Tedros Ghebreyesu, sê lidlande moet dringend kyk na maniere om hulle verpligtinge rakende uitstralings-verminderings na te kom en te versnel, en na skoon energie oor te skakel.
# Krieket: Laura Wolvaardt is bevestig as voltydse kaptein van die Protea-vrouespan in al drie formate. Die 24-jarige kolwer het waargeneem nadat Suné Luus vroeër vanjaar die rol prysgegee het, en het die span gelei tot reeksseges oor Pakistan en Nieu-Seeland. Krieket Suid-Afrika het ook ‘n groep van 15 spelers aangewys vir ‘n T20-reeks teen Bangladesj in Suid-Afrika vroeg volgende maand. Die opkomende SA sterre, Ayanda Hlubi en Eliz-Mari Marx, sal in hierdie reeks hul buiging vir die Proteas maak.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-86-sent teen die dollar, 20-rand-59-sent teen die euro en 23-rand-70-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 37-duisend-749-dollar-95-sent. Die prys van goud is een-duisend-995-dollar-40-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 81-dollar-54-sent per vat.
# En laastens: Navorsers aan die Desmond Tutu TB-sentrum by die Universiteit Stellenbosch het ‘n deurbraak met die behandeling van tuberkulose in kinders behaal. Annake Hesseling van die sentrum het aan eNCA gesê die TB Jump-veldtog het aan die lig gebring die Moxifloxacin-antibiotikum verminder die risiko van multi-middelweerstandige tuberkulose met 56-persent. Sy verduidelik hierdie mediese deurbraak sal kinders se behandeling stroomlyn, sodat hulle elke ses maande een pil kan neem om TB te beheer, in plaas van die huidige vyf pille per dag. Hesseling sê dit sal ook kostedoeltreffend wees:
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….