Nuus 15:00
BULLETIN 18 April 3 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Cosatu vra die regering om in te gryp en werksverliese by die Poskantoor te verminder
# Die DA moedig kiesers aan om hulle vryheid van keuse uit te oefen
# En, sokker: ‘n Italiaanse hof beveel Juventus om Ronaldo 196-miljoen-rand se uitstaande salaris te betaal
# Cosatu het die regering gevra om in te gryp en werksverliese by die Poskantoor te verminder. Daar word verwag dat meer werkers afgelê gaan word. In Limpopo het 300 werknemers tot einde April om by hul onderskeie takke te werk. Die provinsiale sekretaris, Hangwani Mashau, vra ‘n oplossing vir die afleggingskrisis:
# Die hoofsweep van die DA, Siviwe Gwarube moedig kiesers aan om hulle vryheid van keuse uit te oefen. Sy het tydens ‘n politieke debat by die Universiteit van Fort Hare, in vennootskap met Mail and Guardian, die rol erken wat koalisies in die politieke landskap speel, met suksesvolle voorbeelde in Afrika-lande soos Kenia. Gwarube beklemtoon die belangrikheid van ‘n vrye en regverdige verkiesing en die moontlike doeltreffendheid van koalisieregerings:
# Aandelemarkte in Asië en Europa het vandag gestyg met handelaars wat besin oor die vooruitsigte vir Amerikaanse rentekoerse. Oliepryse neig steeds laer weens minder vraag in die Verenigde State en kwynende vrese oor ‘n streeksoorlog in die Midde-Ooste. Beleggers het verkope op Wall Street ignoreer waar tegnologiefirmas getref is deur bekommernisse van rentekoerse wat langer as verwag hoog sal bly. Kommentaar van amptenare van die Federale Reserweraad het die siening versterk oor taai inflasie en ‘n veerkragtige Amerikaanse ekonomie wat die bank sal verhoed om die monetêre beleid binnekort te verslap.
# Sokker: ‘n Hof in Italië het Juventus opdrag gegee om sy voormalige speler Cristiano Ronaldo 196-miljoen-rand te betaal vir salaris wat hulle hom skuld. Portugal se kaptein het ingestem om sy salaris uit te stel toe die sport in die 2020/21-seisoen weens die Covid-19-pandemie stopgesit is. Hy het aanvanklik 404-miljoen-rand geëis. Die hof het bevind hy behoort betaal te word wat hy sou ontvang het na aftrekkings. Ronaldo is in 2021 weg by Juventus na drie seisoene waarin hulle twee Serie A-titels gewen het. Hy speel tans vir Al Nassr in Saoedi-Arabië.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 19-rand-4-sent teen die dollar, 20-rand-33-sent teen die euro en 23-rand-76-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 62-duisend-77-dollar-11-sent. Die prys van goud is twee-duisend-382-dollar-28-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 86-dollar-33-sent per vat.
# En, die Wetenskaplike- en Nywerheidsnavorsingsraad het aangesluit by BioGeoSCAPES, ‘n globale navorsings-veldtog wat fokus op die toekomstige stand van oseane onder klimaatsverandering-scenarios. Die program, onder leiding van die WNNR se hoofnavorser, Tommy Ryan-Keogh, wil kennis verbeter van mikrobiese bio-geo-chemie in oseane. Dit sal konsentreer op modellering, data-integrasie en standardisering om ‘n Internasionale wetenskapplan te ontwikkel wat in die komende maande verwag word.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….