Nuus 13:00
BULLETIN 25 November 1 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# ActionSA veroordeel die Gautengse Gesondheidsdepartment vir die roekelose storting van afval
# Kaapstad se gewilde strande wys uitstekende watergehalte voor die toeristeseisoen
# En, die Netbalwêreldbeker word gekroon as die Geleentheid van die Jaar by die Sportbedryf-toekennings
# ActionSA in Gauteng veroordeel die onverantwoordelike storting van mediese afval – na bewering deur die provinsiale departement van Gesondheid – op ‘n oop stuk grond oorkant die Soccer City-stadion in Johannesburg. Emma More van ActionSA sê die flagrante verontagsaming van openbare gesondheids- en omgewingsveiligheid is onaanvaarbaar en vereis onmiddellike aandag en aanspreeklikheid. More voeg by die party gaan die Omgewings- en Infrastruktuurdepartement, die Johannesburgse Metropolisie en Pikitup versoek om die kwessie te takel en indien moontlik boetes uit te reik vir die oortreding van ordonnansies, onwettige storting en lugbesoedeling:
# Die Stad Kaapstad is ingenome om te kan aankondig sy gewildste strande beskik oor uitstekende watergehalte in die aanloop tot die feestyd. Dit is gegrond op die onafhanklike ontleding van watermonsters wat die afgelope sewe weke geneem is – die jongste op 15 November. Die burgemeesterskomiteelid vir Ruimtelike Beplanning en Omgewing, Eddie Andrews, sê Kaapstad verwag een van sy besigste toeristeseisoene in jare, met besoekers wat na sy skoon strande stroom om saam met inwoners aan ontspanningsaktiwiteite deel te neem:
# Die Nasionale Raad van Provinsies se hoofsweep, Seiso Mohai, het die Suider-Afrika Ontwikkelingsgemeenskap parlementêre forum aangepor om hom te beywer vir die ontwikkeling van ‘n modelwet oor klimaatsverandering ten einde die streek se wetgewing oor die kwessie te sinchroniseer. Mohai het by die 54ste hoofvergadering van die SOAG in Port Louis, Mauritius, gepraat. Hy sê Suid-Afrika steun die verslag van die staande komitee oor Voedsel, Landbou en Natuurlike Hulpbronne wat die belangrikheid beklemtoon om die dreigende uitdagings van klimaatsverandering te takel.
# Motorsport: Charles Leclerc van Ferrari is die voorloper vir môre se laaste Grand Prix van die die seisoen in Abu Dhabi nadat hy Lando Norris van McClaren uitgestof het in die tweede oefensessie wat gekenmerk is deur verskeie ongelukke. Die wêreldkampioen Max Verstappen kon nie verbeter op sy derde plek nie. Die aksie is erg geraak deur twee rooivlagvoorvalle nadat Leclerc se spanmaat Carlos Sainz en Nico Hulkenberg van Haas in ongelukke betrokke was. Nie een van die twee is beseer nie. Valtteri Bottas van Alfa Romeo was vierde, voor Sergio Perez in die tweede Red Bull-renmotor, en George Russell van Mercedes en Zhou Guanyu in die tweede Alfa Romeo.
# En om mee af te sluit: die Stad Kaapstad het die Netbalwêreldbeker-toernooi gelukgewens met sy toekenning as die Sportgebeurtenis van die Jaar by gisteraand se Sportbedryftoekennings. Die toekennings word beskou as die mees gesogte eer in die bedryf van sportgeleenthede. Die Netbalwêreldbeker, wat in Julie en Augustus in Kaapstad aangebied is, het met verskeie ander benoemdes meegeding, insluitend die Kaapstadse E-Prix, die IKK se Vroue-wêreldbeker en die Run Your City-reeks. Dit is ook benoem as die sportorganisasie van die jaar in die Afrika-Uitmuntendheidskategorie.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….