Nuus 13:00
BULLETIN 20 Maart 1 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Jacob Zuma se poging om aanklaer Billy Downer te verwyder word weer van die hand gewys
# Die regering stel ‘n salarisverhoging van 4,7-persent in vir staatsamptenare
# En Russiese en Belarussiese atlete word uitgesluit van die openingsgeleentheid van die Olimpiese Spele in Parys
# Die Hooggeregshof in Pietermaritzburg, KwaZulu-Natal, het oudpresident Jacob Zuma se tweede aansoek om die aanklaer, Billy Downer, van sy wapentransaksie-korrupsiesaak te verwyder, van die hand gewys. Regter Nkosinathi Chili het in sy uitspraak gesê Zuma het versuim om aan te toon hoe Downer se voortgesette rol as ‘n aanklaer sy reg op ‘n regverdige verhoor sou skend. Zuma se regsverteenwoordiger, Dali Mpofu, sê hulle wil teen die uitspraak appelleer:
# Die minister van die Staatsdiens en Administrasie, Noxolo Kiviet, het die amptelike instelling aangekondig van ‘n salarisverhoging van 4,7-persent vir staatsamptenare vanaf 1 April. Kiviet sê die regering het verskeie faktore oorweeg om ‘n balans te vind tussen voorsiening in die behoeftes van staatsamptenare en die lewering van doeltreffende dienste. Sy sê die verhoging weerspieël die regering se verbintenis tot billike vergoeding en die verskaffing van gehalte openbare dienste.
# Interpol en die Mosmbiekse polisie is gesamentlik besig met ‘n soektog na die vermiste KwaZulu-Natalse skipper John Matambu, wat verdwyn het tydens ‘n huurvaart saam met ‘n onbekende man. Matambu se uitgebrande skiboot, Magnum Too, is opgespoor op ‘n strand in Mosambiek. News24 berig die ondersoek duur voort na die geheimsinnige verdwyning van Matambu en die passasier, wat volgens berigte die boot gehuur het met ‘n aanspraak van ‘n terminale siekte. Craig Lambinon van die Nasionale Seereddingsinstituut sê die boot moes Saterdagmiddag na Sodwanabaai teruggeneem geword het:
# Die Bank van Japan het die eerste keer in 17 jaar die land se sleutel-rentekoers verhoog van minus 0,1-persent tot ‘n reeks van nul tot 0,1-persent. Die besluit volg nadat salarisse opgeskiet het weens stygende verbruikerspryse, en beteken geen land ter wêreld het nou ‘n negatiewe rentekoers nie. BBC News berig ‘n negatiewe koers dwing verbruikers om te betaal om geld in ‘n bank te deponeer. Verskeie lande het die maatreël gebruik om mense te dwing om hulle geld uit te gee, in plaas van dit in ‘n bank te hou.
# Sportnuus: Die Internasionale Olimpiese Komitee sê Russiese en Belarussiese atlete sal nie toegelaat word om aan die openingseremonie van die Spele in Parys deel te neem nie. Atlete van albei lande is van spansport verbied ná Moskou se inval in Oekraïne met Belarus se hulp. Dit volg nadat die Internasionale Paralimpiese Komitee ook die lande se atlete verbied het om in Augustus aan sy openingseremonie deel te neem. Die IOK verwag dat 36 neutrale atlete met Russiese paspoorte en 22 met Belarussiese paspoorte vir die Spele sal kwalifiseer.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-93-sent teen die dollar, 20-rand-53-sent teen die euro en 24-rand-4-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 63-duisend-59-dollar-86-sent. Die prys van goud is twee-duisend-155-dollar-37-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 86-dollar-72-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….