Nuus 13:00
BULLETIN 19 Maart 1 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die ANC en die MK-party bots oor ‘n registrasiekwessie
# Johannesburg Water gaan voort met ingrypings om watervoorsiening te bevorder
# En, motorsport: Mercedes vind oplossing vir basiese probleme met sy W15-motor
# Die uMkhonto we Sizwe-party moedig die Verkiesingshof aan om sy registrasie te behou, met die Verkiesingkommissie wat aanvoer die hof het nie jurisdiksie om die saak aan te hoor nie. Die ANC en oudpresident Jacob Zuma se nuwe party stamp in Bloemfontein koppe oor die party se registrasie. Die ANC voer aan die MK-party se registrasie was onregmatig weens onbehoorlike publikasie en dat sy registrasie-aansoek later aangevul is. Die ANC se regsverteenwoordiger, Tshidiso Ramogale, voer aan die adjunk-hoofverkiesingsamptenaar, Mawethu Mosery, se besluit om die MK-party te registreer, was onreëlmatig:
# Johannesburg Water sê hy gaan voort met ingrypings om watervoorsiening te bevorder en stelsels te balanseer ten einde billike verspreiding te verseker. Die langdurige hittegolf en ‘n gebrek aan reën oor die vorige paar weke het die aanvraag aansienlik verhoog, met laer reservoirvlakke. Daar is ‘n effense verbetering in die Kommandostelsel, maar die stelsel is steeds onder druk. Die Sentrale Stelsel is ook besig om te verbeter, maar die Soweto-stelsel is onder druk weens die groot vraag en warm weer.
# Die DA in Gauteng doen ‘n beroep op premier Panyaza Lesufi om ʼn duidelike tydlyn te verskaf van wanneer die e-tol-seinbrûe afgeskakel word. Die premier het in sy provinsiale rede gesê die seinbrûe sal teen die 31ste van die maand afgeskakel wees. ʼn DA-woordvoerder, Dorianne Arendse, sê dit kan net gebeur indien die afskakeling 14 dae voor die voorgestelde datum in die Staatskoerant afgekondig word, maar dit het nog nie gebeur nie:
# Motorsport: Mercedes se Formule Een-span sê hy is besig om oplossings te vind vir basiese probleme met sy W15-motor aan die vooraand van die naweek se Australiese Grand Prix. Mercedes het in vanjaar se eerste twee wedrenne slegs 26 punte ingesamel en is vierde in die vervaardigers-afdeling. Die motor kon nie deur die rondes sy spoed volhou nie. ‘n Direkteur van Mercedes se ingenieurs-afdeling, Andrew Shovlin, sê hulle het beduidende werk gedoen rakende aërodinamika en dit sal hopelik met die vertoning help.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 19-rand-1-sent teen die dollar, 20-rand-62-sent teen die euro en 24-rand-11-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 63-duisend-709-dollar-79-sent. Die prys van goud is twee-duisend-152-dollar-40-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 86-dollar-56-sent per vat.
# En, die getal paartjies in China wat kies om te trou, het die eerste keer in nege jaar toegeneem. Die ministerie van Burgerlike Sake sê daar was verlede jaar 7,68-miljoen pasgetroudes in die land, wat 12,4-persent meer is as die vorige jaar. Die Chinese regering voer tans veldtogte om huwelike aan te moedig in ʼn poging om die land se rekord lae geboortesyfer ʼn hupstoot te gee. Volgens berigte verwag sommige waarnemers meer huwelike sal tot meer babas lei aangesien die huweliksyfer en geboortesyfer ʼn noue verband toon.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….