Nuus 13:00
BULLETIN 18 Maart 1 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die saak teen die vierde beskuldigde in Joslin Smith se verdwyning word uitgestel
# Die African Amalgamated Restorative Movement sê die OVK kan nie ‘n gladde verkiesing aanbied nie
# En, tennis: Djokovic onttrek van Miami Ope om sy beroeps- en privaat skedule te balanseer
# Die Landdroshof in Vredenburg in die Wes-Kaap het die saak teen die vierde beskuldigde in die verdwyning van Joslin Smith tot volgende Maandag uitgestel. Die 32-jarige Lourencia “Renz” Lombaard het vandag in die hof verskyn en is aangekla van mensehandel-in-persoon en mensehandel. Sy is die naweek in hegtenis geneem en die staat sê sy het ‘n bekentenis afgelê. Die ses-jarige graad 1 leerder het vier weke gelede vermis geraak uit haar huis in die Middelpos-informele nedersetting. Haar ma, Kelly Smith, en twee mans verskyn op 13 Mei weer in die hof.
# Die African Amalgamated Restorative Movement se leier, biskop Marothi Mashashane, bevraagteken die Verkiesingskommissie se vermoë om ‘n gladde, geloofwaardige en regverdige verkiesing met integriteit aan te bied of uit te voer. Hy sê die uMkhonto we Sizwe Party en die ANC se kandidatelys wat uitgelek het, plaas reeds die kommissie se integriteit in gedrang, maar die OVK versuim om dienooreenkomstig sulke partye te hanteer. Mashashane sê die atmosfeer in die aanloop tot die verkiesingsdatum raak al hoe meer bedreigend vir kiesers:
# ’n Vulkaan in Ysland se Reykjanes-skiereiland het die vierde keer sedert Desember uitgebars, en ’n noodtoestand is afgekondig. Ontruiming is in die dorp Grindavik gelas, en kommer heers oor die Svartsengi-kragsentrale, wat elektrisiteit en water aan sowat 30-duisend mense op die skiereiland verskaf. Ysland se Weerkantoor sê die lawa-vloei is nou stadig en bestendig. Ysland het 33 aktiewe vulkaanstelsels, wat die meeste in Europa is.
# Tennis: Die sesmalige Miami Ope-kampioen, Novak Djokovic, het hom aan die toernooi onttrek ter wille van ‘n balans tussen sy privaat en beroepskedule. Djokovic se aankondiging op sosiale media volg na sy nederlaag van 6-4, 3-6, 6-3 teen die redelik onbekende Italianer Luca Nardi in die derde ronde ‘n week gelede. Nardi, wat 123ste op die ranglys is, is die laagste speler op die ranglys ooit wat Djokovic in ‘n Grand Slam- of ATP-Meesters-een-duisend-toernooi kon klop. Die Suid-Afrikaner Kevin Anderson het dit in 2008 in Miami op nommer 122 reggekry.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-77-sent teen die dollar, 20-rand-45-sent teen die euro en 23-rand-92-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 67-duisend-817-dollar-71-sent. Die prys van goud is twee-duisend-154-dollar-50-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 85-dollar-81-sent per vat.
# En, die Universiteit van die Witwatersrand sê hy is verbind om ‘n leierskapsrol te speel in ʼn regverdige en billike oorgang na ʼn koolstofvrye ekonomie. Nuwe sonkragbanke is by buitelugmeubels op die Braamfonteinse kampusse geplaas. ʼn Woordvoerder van die universiteit, Chris Ziyambi, sê hierdie vernuwende banke wat met sonpanele toegerus is, is deel van die oorgang na ʼn groen instelling:
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….