NUUSFLITS NUUSAGENTSKAP 20 November 1 nm
Goeiemiddag,
In die bulletin:
# Die DA wil hê die OVK moet die Wet op Politieke Partybefondsing verskerp
# Motoriste in San Diego skarrel om geld op te tel wat uit ‘n geldwa geval het
# En, die jaarlikse Kersiefees word hierdie naweek in die Oos-Vrystaat gevier
# Die Demokratiese Alliansie het ‘n klag gelê by die Onafhanklike Verkiesingskommissie oor die skenking van 15-miljoen-rand van Chancellor House aan die ANC. Die DA wil hê die OVK moet die wetgewing oor die befondsing van politieke partye verskerp en voer aan die ANC sal meer fondse deur die trust verdoesel. In reaksie het die OVK se hoof-verkiesingsbeampte vir befondsing van politieke partye, George Mahlangu, gesê daar is ‘n twee-fase-reëling vir die bekendmaking van donasies:
Speel klankgreep: ENG IEC on R15 M funding
# Die geskorste ANC-lid Carl Niehaus sê hy is gefrustreerd deur die Nasionale Vervolgingsgesag wat te kwader trou optree. Die NVG het Niehaus ‘n ultimatum gestel om Maandag in die Estcourt Landdroshof in KwaZulu-Natal te verskyn. Indien dit nie gebeur nie sal ‘n lasbrief vir sy inhegtenisneming uitgereik word. Niehaus staan tereg op aanklagte van die oortreding van Covid-19-regulasies nadat hy ‘n groep Jacob Zuma-ondersteuners toegespreek het, kort ná die oudpresident se arrestasie in Julie. Niehaus is in hegtenis geneem terwyl hy ‘n regstreekse TV-onderhoud gevoer het voor die Estcourt-gevangenis, waar Zuma aangehou is.
# Geld het gister op ‘n San Diego-snelweg gereën toe een van die deure van ‘n gepantserde vragmotor oopgespring het en sakke met kontant uitgeval het. As gevolg van die geskarrel deur bestuurders om die note op te tel, moes die pad heeltemal gesluit word. ’n Woordvoerder van die Kalifornië Hoofwegpatrolliediens sê die snelweg was letterlik vol kontant. Minstens twee mense is op die toneel in hegtenis geneem. Motoriste is gewaarsku om enige kontant wat hulle opgetel het, terug te gee aangesien die FBI nou met die ondersoek help.
# Die Ysterman Driekamp-kompetisie word die naweek in Gqeberha gehou. Verskeie plaaslike en internasionale atlete wedywer in die 3,8 kilometer swem, 180-kilometer fietsry en 42-kilometer marathon. Die geleentheid kan atlete laat kwalifiseer vir die 2022 Ysterman Wêreldkampioenskap in Kailua-Kona in Hawaii. Die Ysterman driekamp-afrigter, Raynard Tissink, het aan Newzroom Afrika gesê voorbereiding is noodsaaklik voor enige Ysterman-kompetisie:
Speel klankgreep: ENG Ironman
# En ten slotte, die dorpe Ficksburg, Fouriesburg, en Clarens in die Oos-Vrystaat gooi hierdie naweek hul deure oop vir besoekers aan die jaarlikse Kersiefees. Mense van oral besoek die gebied om die oes te vier na ‘n lang koue winter en die begin van die sagtevrugte-seisoen in die omgewing. Verskillende plekke in die distrik bied spesiale geleenthede aan en Frieda Kruger, van een van die grootste kersieprodusente in die land, die plaas Bloukruin Iona, gee inligting oor vandag se program op die plaas:
Speel klankgreep: AFR – Kersiefees
Vir die jongste nuusgebeure, bly ingeskakel op ……………….