Nuus 13:00
BULLETIN 15 Maart 1 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die OVK herhaal sy waarskuwing aan politieke partye oor oortredings van die Verkiesingskode
# Die Russe begin stem in die land se presidents-verkiesing
# En, krieket: Die beseerde Lungi Ngidi is uit die IPL-seisoen
# Die Onafhanklike Verkiesingskommissie het weer benadruk dat politieke partye voor die verkiesing aan die Verkiesingsgedragskode moet voldoen. Dit volg op dreigemente deur die MK-party, gesteun deur oudpresident Jacob Zuma, van politieke onrus indien die party van die stemproses uitgesluit word. Die OVK se uitvoerende hoof, Sy Mamabolo, het tydens ‘n Nasionale Persklub-dialoog gewaarsku dat geen geweld of enige ontwrigtings geduld sal word nie:
# Die metaalwerkersvakbond Numsa vra die Spesiale Ondersoekeenheid moet ‘n diepte-ondersoek doen na die mislukte ooreenkoms tussen die Suid-Afrikaanse Lugdiens en die Takatso-konsortium. Die minister van Openbare Ondernemings, Pravin Gordhan, het Woensdag aangekondig die ooreenkoms om 51-persent van die SAL aan Takatso te verkoop, is van die baan, want onderhandelings sou nie uitloop op ‘n regverdige transaksie vir ‘n openbare bate nie. Numsa se woordvoerder, Phakamile Hlubi-Majola, sê hulle is nie tevrede met Gordhan se verduideliking nie:
# Russe het vandag begin stem in ‘n drie-dae-lange presidentsverkiesing wat die veteraanleier, Vladimir Putin, nog ‘n termyn van ses-jaar mag gee namate die konflik wat in Oekraïne woed, verder uitbrei na Russiese grondgebied. Putin is sedert die laaste dag van 1999 aan bewind as president of eerste minister. Die voormalige KGB-agent beskou die verkiesing as ‘n bewys van Russe se trou en ondersteuning vir sy militêre aanval op Oekraïne, tans in sy derde jaar. Stemlokale het vroegoggend geopen in die land, wat oor elf tydsones strek.
# Krieket: Die Delhi Capitals het die Protea-snelbouler Lungi Ngidi van dié seisoen se Indiese Premierliga vrygestel nadat hy beseer is. Die kompetisie begin volgende week. Die 27-jarige het verlede maand ‘n laerrugbesering opgedoen in die uitspeelrondes van die SA20. Krieket Suid-Afrika se mediese span monitor Ngidi en hy ondergaan rehabilitasie by sy provinsiale span, die Titans. Hy sal na verwagting volgende maand weer op die veld wees.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-72-sent teen die dollar, 20-rand-38-sent teen die euro en 23-rand-85-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 66-duisend-935-dollar-4-sent. Die prys van goud is twee-duisend-169-dollar-60-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 84-dollar-80-sent per vat.
# En, laastens: ‘n Vier-en-twintigjarige student van die Nelson Mandela-universiteit is aanvaar om volgende jaar haar doktorsgraad in Antropologie aan die Universiteit van New York te doen. Asithandile Ntsondwa gaan navorsing doen oor tussen-dissiplinêre argeologiese antropologie, ten opsigte van natuur- en sosiale wetenskappe. Sy sê terwyl sy by NMU studeer het, het sy talle geleenthede gehad, en die kans om saam met bekende navorsers in Suid-Afrika en oral in die wêreld te werk.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….