Nuus 13:00
BULLETIN 30 September 1 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die uitleweringsproses begin teen ‘n man wat in Brittanje van gesinsmoord beskuldig word
# Die Amerikaanse Senaat stuit ‘n voorstel vir inligting rakende nege Amerikaners wat aan die Wesoewer sterf
# En krieket: Maharaj sê die reeks teen Australië is ‘n goeie grondslag om op voort te bou vir volgende jaar se Wêreldbeker
# Uitleweringsverrigtinge begin vandag in die Johannesburgse Landdroshof teen die Zimbabwies-Britse voortvlugtige, Ndodana Tshuma. Die Britse owerhede wil die 45-jarige laat teregstaan op aanklagte van die moord op sy vrou, Nothabo, en hul dogters, Natalie en Nala, in Brittanje in Julie. Tshuma het na Suid-Afrika gevlug kort voor die liggame ontdek is en is later in Johannesburg aangekeer. Hy het reeds skuld beken op ‘n plaaslike aanklag van die onwettige besit van ‘n vuurwapen en ammunisie.
# Forum for South Africa het berigte verwelkom dat die Nasionale Vervolgingsgesag dit oorweeg om die minister in die Presidensie, Khumbudzo Ntshavheni, te vervolg. Dit hou verband met ‘n tender van 2,5-miljoen-rand wat aan ‘n konsultant toegeken is tydens haar ampstermyn as munisipale bestuurder van die Ba-Phalaborwa-munisipaliteit in Limpopo. Die forum se leier, Tebogo Mashilompane, sê die NVG moet vinnig besluit, want die publiek verdien antwoorde:
# ActionSA sê president Cyril Ramaphosa se toespraak oor geslagsgeweld is te laat en erken nie die voortdurende krisis en verswakte strafregstelsel wat vroue en kinders kwesbaar laat nie. Herman Mashaba van die party sê hoewel hy die oudit van sake verwelkom, is polisie-speurders oorlaai en kan nie onopgeloste sake hanteer nie. Mashaba sê die polisie werk onder ernstige hulpbronbeperkings, met stadige reaksietye en swak sakebestuur. Hy sê slagoffers ervaar sekondêre geweld weens vertragings, ongevoelige behandeling en verlore dossiere.
Nuus uit die buiteland:
# Die Republikeins-beheerde Amerikaanse Senaat het ‘n voorstel van die Demokrate verwerp wat die Departement van Buitelandse Sake sou verplig om inligting te verskaf oor geweld en beweerde menseregtevergrype aan die besette Wesoewer in die Midde-Ooste. Dit sluit besonderhede in oor nege Amerikaners wat dood is, asook Israel se hantering van Palestynse kinders in aanhouding. Die Demokratiese senator, Chris van Hollen, sê hulle sal nie ophou voor daar geregtigheid is nie:
# Krieket: Die Proteas se draaibouler, Keshav Maharaj, glo die huidige reeks teen Australië is ‘n gulde geleentheid om die grondslag te lê vir volgende jaar se Wêreldbekertoernooi. Suid-Afrika sal vanmiddag in die derde en laaste eendagwedstryd in Potchefstroom probeer om skoonskip te maak voor die drie toetse. Maharaj, wat tot dusver ses paaltjies in die reeks geneem het, sê hulle fokus op die proses terwyl hulle voortgaan om die span se diepte te versterk en op sekere fasette te verbeter in die aanloop tot die wêreldtoernooi.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-38-sent teen die dollar, 18-rand-60-sent teen die euro en 21-rand-74-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 83-duisend-351-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-183-dollar-65-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 101-dollar-43-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….