Nuus 12:00
BULLETIN NUUSAGENTSKAP 14 Desember 12 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die N3 Tolkonsessie verwag van vandag af besige verkeerstoestande
# Die Wes-Kaapse LUR vir Maatskaplike Ontwikkeling herhaal oproepe vir kinderveiligheid hierdie feestyd
# En, sokker: Sundowns behaal sy 11de agtereenvolgende Premierliga-oorwinning
# Die N3-tolkonsessie waarsku motoriste om van vandag af swaar verkeerstoestande op die hoofroete te verwag. Dit terwyl vakansiegangers na verskillende dele van die land begin reis, met môre boonop ‘n openbare vakansiedag. ʼn Woordvoerder van die N3-tolkonsessie, Thania Dhoogra, sê in die lig van die hoё verkeersvolumes en vragmotors wat ruim 40-perent van alle voertuie op die roete uitmaak, kan bestuurders hierdie feestyd heelwat druk op die paaie verwag:
# Die Wes-Kaapse LUR vir Maatskaplike Ontwikkeling, Sharna Fernandez, doen ‘n beroep op ouers om veral waaksaam te wees by die strand of in ‘n winkelsentrum gedurende die vakansie. Tussen die 31ste Desember verlede jaar en die tweede Januarie vanjaar is minstens 240 kinders van hul gesinne geskei in hoëvolume gebiede soos Monwabisi, Mnandi, Kampsbaai, Strandfontein, Muizenberg en die Strand se strande. Fernandez sê as versorgers om watter rede ookal in ‘n openbare ruimte van kinders geskei word, moet hulle dadelik ‘n wetstoepasser nader vir bystand.
# Die Congress of the People doen ‘n beroep op president Cyril Ramaphosa om op te tree teen die minister van Openbare Ondernemings, Pravin Gordhan, vir sy weiering om sleuteldokumente oor die verkoop van die Suid-Afrikaanse Lugdiens aan die Parlement te oorhandig. Gordhan, wat die verkoop van 51-persent van die Suid-Afrikaanse Lugdiens aan die Takatso-konsortium behartig het, weier om die kortlys van bieërs en die koop-en-verkoopooreenkoms met Takatso aan die Parlement se portefeuljekomitee oor Openbare Ondernemings te verskaf. Tebogo Loate van COPE sê die minister moet deursigtig wees:
# Sokker: Mamelodi Sundowns het Cape Town Spurs gisteraand drie-nul op Loftus Versfeld verslaan en hul verstommende opening van die Premierliga-seisoen voortgesit. Die verdedigende kampioen het nou elf agtereenvolgende wedstryde gewen. Die afrigter, Rulani Mokwena, sê hy is tevrede met sy span se prestasie:
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-61-sent teen die dollar, 20-rand-28-sent teen die euro en 23-rand-48-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 42-duisend-949-dollar-86-sent. Die prys van goud is twee-duisend-en-37-dollar-15-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 73-dollar-53-sent per vat.
# Ten slotte: Die minister van Sport, Kuns en Kultuur, Zizi Kodwa, moedig mense landwyd aan om môre te vier. Vyftien Desember is ‘n openbare vakansiedag om die Springbokke se geskiedkundige oorwinning in die Rugby Wêreldbeker te gedenk. Tydens Versoeningsmaand wil die Nasionale Sportdag Suid-Afrikaners verenig om sportprestasies en skeppende vernuf te vier. Kodwa moedig landsburgers aan om nasionale kleure te dra en beklemtoon die rol van die geleentheid om maatskaplike samehorigheid en nasionale trots te koester, asook om die transformerende krag van sport en die kunste ten toon te stel.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….