Nuus 12:00
BULLETIN NUUSAGENTSKAP 22 Oktober 12 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die beskuldigde in die moord op ‘n Matie-student laat vaar sy borgtogaansoek
# Rivonia Circle eis aanspreeklikheid na die inhegtenisneming van Johannesburg se gewese burgemeester
# En, krieket: Die Proteas bou ‘n eerstebeurt-voorsprong van 202-lopies teen Bangladesj in Mirpur
# Die jong man wat aangekla word van die moord op ‘n student van die Universiteit Stellenbosch, Jesse Mitchell, keer die 27ste van die maand terug na die plaaslike Landdroshof. Die 19-jarige Rudolf Hufke het sy borgtogaansoek laat vaar toe hy gister weer voorgekom het. Hy is in hegtenis geneem kort nadat Mitchell verlede Woensdag in die vroeë oggendure vermoor is op pad na sy koshuis, op sy 19de verjaarsdag. Drie ander verdagtes wat Vrydag aangekeer is, is vrygelaat sonder om aangekla te word.
# Die direkteur van Rivonia Circle, Tessa Dooms, vra die ANC-koalisie in Johannesburg om ‘n gewese burgemeester, Kabelo Gwamanda, aanspreeklik te hou nadat hy in hegtenis geneem is weens ‘n bedrogspul met begrafnispolisse in 2011. Dooms het aan Newzroom Afrika beklemtoon burgemeester Dada Morero moet gevolgebestuur toepas. Sy waarsku teen partypolitiek en beklemtoon die noodsaaklikheid om bekwame leiers aan te stel om die stad te dien:
# Swaar reën oornag het tot oorstromings gelei wat veroorsaak het dat tientalle inwoners van die Oos-Kaap, veral in Gqeberha en Kariega, hul wonings moes ontruim. Hulle word tans in gemeenskapsale en skole gehuisves. ʼn Vlak ses-waarskuwing oor swaar reën is gister uitgereik. Gift of the Givers se bedryfsbestuurder, Ali Sablay, het aan die SABC gesê hulle praat tans met plaaslike rampbestuurspanne wat probeer om nog inwoners uit verskeie gebiede na veiligheid te neem:
# Krieket: ‘n Briljante honderdtal deur Kyle Verreyne het Suid-Afrika ‘n eerstebeurt-voorsprong van 202-lopies oor Bangladesj besorg op die tweede dag van die eerste toets in Mirpur. Die Proteas het die gashere gister vir net 106 uitgeboul, maar die besoekers het daarna hulle sesde paaltjie verloor met ‘n voorsprong van slegs twee lopies. Verreyne, eers bygestaan deur Wiaan Mulder en toe deur Dane Piedt, het die telling tot 308 geneem voordat hy op 114 gestonk is. Mulder het 54 bygedra en Piedt 32, terwyl Taijul Islam vyf paaltjies geneem het.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-55-sent teen die dollar, 19-rand-2-sent teen die euro en 22-rand-82-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 67-duisend-251-dollar-18-sent. Die prys van goud is twee-duisend-734-dollar-15-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 73-dollar-76-sent per vat.
# En ten slotte: Die tegnologie-miljardêr Elon Musk gaan elke dag ‘n miljoen-dollar weggee aan geregistreerde kiesers in Amerikaanse state waar die partye kop-aan-kop is. Verkiesingswetdeskundiges glo egter dit kan wette oortree waarvolgens mense nie betaal mag word om te registreer nie. Musk het beloof om ‘n miljoen-dollar lukraak toe te ken aan mense wat ‘n versoekskrif onderteken het ter ondersteuning van die Eerste en Tweede Wysiging. Die rykste man ter wêreld het meer as 1,3-miljard-rand aan oudpresident Donald Trump se herkiesings-veldtog gegee. Musk het onlangs byeenkomste gehou ter ondersteuning van Trump.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….