Nuus 12:00
BULLETIN NUUSAGENTSKAP 11 Desember 12 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Haitu wil ‘n totale verbod sien op privaat-gesondheidsorg in Suid-Afrika
# ‘n Ekonoom is optimisties oor Dan Marokane se aanstelling as Eskom-bestuurshoof
# En, tennis: Djokovic sê hy is tot skurk verklaar weens die omstredenheid rondom inenting
# Die gesondheidsvakbond, Haitu meen die Nasionale Gesondheidsversekering sal die ongelykheidsgaping in die gesondheidsektor in Suid-Afrika aanspreek. Die omstrede wetsontwerp is verlede week deur die Nasionale Raad van Provinsies aanvaar, wat die weg gebaan het vir president Cyril Ramaphosa om dit as wet te onderteken. Die vakbond se hoofsekretaris, Lerato Mthunzi, sê die tweevlakstelsel in die land sluit tans armes uit, en daarom moet privaat-gesondheidsorg verbied word:
# ‘n Ekonoom van Firstsource Money, Redge Nkosi, het sy optimisme uitgespreek oor die aanstelling van die nuwe uitvoerende hoof van Eskom, Dan Marokane. Marokane, wat tans die waarnemende uitvoerende hoof is van die suikerprodusent Tongaat-Hulett, en wat voorheen die hoof was van groepkapitaal by Eskom, het ‘n Meestersgraad in ingenieurswese en ‘n MBA. Nkosi het aan Newzroom Afrika gesê, Marokane se leierskap sal stabiliteit bring by die kragvoorsiener. Hy het die noodsaaklikheid beklemtoon van die herstel in opwekkingsvermoë:
# Die Amerikaanse president, Joe Biden, sal môre sy Oekraïnse eweknie, Volodymyr Zelensky, by die Withuis ontmoet. Dit volg na die blokkering verlede week deur Republikeinse senatore, van sowat twee-duisend-miljard-rand se noodhulp wat hoofsaaklik vir Oekraïne en Israel bestem was. Konserwatiewes was nie tevrede met die uitsluiting van die immigrasiehervormingsvoorwaarde wat hulle as deel van die pakket gestel het nie. Die Withuis sê die vergadering is bedoel om Amerika se onwrikbare verbintenis te benadruk om die mense van Oekraïne te ondersteun, terwyl hulle hulself teen Rusland se wrede inval verdedig. Dit sal Zelensky se tweede besoek aan die Withuis wees.
# Tennis: Die wêreld se nommer een-tennisspeler, Novak Djokovic, sê hy is basies ‘n skurk verklaar toe hy verlede jaar geweier het om hom teen Covid-19 te laat inent. Die 36-jarige Serwiër het verlede jaar vrystelling gekry om aan die Australiese Ope deel te neem nadat die land lank streng inperkingsmaatreëls gehandhaaf het. Hy is ná openbare teenkanting egter gedeporteer. Djokovic het in ‘n onderhoud in 60 Minutes op CBS News dit duidelik gestel dat hy nie teen, of ten gunste van inentings is nie:
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 19-rand-5-sent teen die dollar, 20-rand-50-sent teen die euro en 23-rand-92-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 42-duisend-32-dollar-79-sent. Die prys van goud is een-duisend-995-dollar-42-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 76-dollar-34-sent per vat.
# Ten slotte: Shark Spotters South Africa is in die finale episode van die tweede seisoen van die televisiereeks No Contest: Off Tour te sien oor die vreedsame saambestaan van branderplankryers en haaie aan die kus tussen Durban en Jeffreysbaai. Die episode plaas klem op die Shark Spotters-program in Kaapstad wat deur die Red Ons Oseane-stigting op die been gebring is. Die program het met groot sukses die veiligheid van mense én haaie verseker en terselfdertyd waardevolle data oor die gedrag en bewegings van wit haaie verskaf vir voortgesette navorsing en bewaringspogings.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….