Nuus 12:00
BULLETIN NUUSAGENTSKAP 12 Augustus 12 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die DA in Gauteng beskuldig premier Lesufi dat hy korrupte amptenare beskerm
# Plasings vir graad 1 en 8 in Gauteng begin middel-September
# En, gholf: LIV-gholf skors Graeme McDowell na ‘n opkikker-oortreding
# Die DA in Gauteng sê premier Panyaza Lesufi se onvermoë om ‘n enkele goedgekeurde bedrog-opsporingsverslag in die vierde kwartaal voor te lê, beteken hy het geen voorneme om korrupsie uit te roei nie. Die party se provinsiale leier, Solly Msimanga, sê Lesufi se kantoor beweer die verslag kon nie voltooi word nie weens die projek se ingewikkeldheid en ʼn tekort aan hulpbronne. Hy sê die bedrog-opsporingsverslag is noodsaaklik om die provinsiale regering te help om korrupsie op te spoor en uit te roei:
Steeds in Gauteng: Die LUR vir Onderwys, Matome Chiloane, sê plasings vir graad een en agt sal op 16 September begin. Die departement het vir volgende jaar 325-duisend-712 aanlyn aansoeke ontvang vir graad een en 442-duisend-952 vir graad agt. Chiloane sê plasing-aanbiedings kan nie op die aangekondigde datum aan alle ouers gestuur word nie, daarom sal dit die res van die jaar uitgereik word tot almal in kennis gestel is:
# ‘n Ongeluk op die KaNyamazane-pad in Mpumalanga waarby ‘n vragmotor, ‘n skoolbus en ‘n bakkie betrokke was, het vanoggend die lewens van minstens drie mense geëis. Sewe-en-twintig mense is hospitaal toe geneem. Dit volg slegs ‘n paar weke nadat ses kinders dood is toe ‘n leerder-bus waarin hulle gereis het, in Middelburg, Mpumalanga, teen ‘n trein gebots het.
# Gholf: LIV-gholf het Graeme McDowell vir een toernooi geskors en beboet nadat hy ‘n ontstuwingsmiddel gebruik het wat ʼn verbode bestanddeel bevat. Hy sê ‘n erge verstopping het sy slaap benadeel en hy het ʼn generiese Vicks-neussproei gebruik sonder om te besef dis op die lys verbode middels. Die wenner van 2010 se Amerikaanse Ope sê hy is baie spyt hieroor. McDowell sal volgende week se geleentheid in Wes-Virginia misloop, maar mag weer volgende maand in Chicago deelneem.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-24-sent teen die dollar, 19-rand-92-sent teen die euro en 23-rand-29-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 58-duisend-836-dollar-86-sent. Die prys van goud is twee-duisend-441-dollar-21-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 80-dollar-33-sent per vat.
# En ten slotte: Die afsluitingseremonie van die Olimpiese Spele in Parys het iets van alles gehad – tot Tom Cruise wat die toeskouers met ʼn paar heldhaftige toertjies betower het. Die ster van Mission: Impossible, geklee in ʼn leerbaadjie en -handskoene, het met ʼn tou van die Stade de France se dak afgesak. Billie Eilish, Snoop Dogg en die Red Hot Chili Peppers het opgetree. H.E.R. het die Amerikaanse volkslied gesing om die Spele aan Los Angeles te oorhandig, waar dit in 2028 sal plaasvind. Die kunsregisseur Thomas Jolly en uitvoerende regisseur, Thierry Reboul, het die seremonie beplan.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….