Nuus 12:00
BULLETIN NUUSAGENTSKAP 15 Julie 12 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Minister Tau sê die beleid van regstellende aksie sal bly
# Inwoners van Newton in die Boland wat hulle huise moes ontruim, mag terugkeer
# En, rugby: Vyf spelers is vir die Springbokspan opgeroep vir die toets teen Portugal
# Die minister van Handel, Nywerheid en Mededinging, Parks Tau, het Suid-Afrikaners verseker regstellende aksie soos swart ekonomiese bemagtiging sal nie onder die regering van nasionale eenheid geskrap word nie. Die departement is verantwoordelik vir ‘n reeks beleide wat die ekonomie rig, insluitend diegene wat bedoel is om die ras-wanbalans reg te stel wat steeds in die sake-omgewing heers. Tau sê die kabinet-legotla van die afgelope naweek het gefokus op die ontwikkeling van ‘n verenigde nasionale agenda:
# Die Drakenstein-munisipaliteit sê sowat 900 gesinne wat hul huise in Newton in Wellington ontruim het, mag terugkeer. Inwoners het hul huise Dinsdag vrywillig verlaat toe owerhede gevrees het die Bo-Dal-plaasdam se wal gaan breek weens swaar reën. Die munisipaliteit se woordvoerder, Riana Geldenhuys, sê hulle sal die dam dophou en inwoners onmiddellik inlig as die situasie verander:
# Die Gautengse LUR vir Finansies en Ekonomiese Ontwikkeling, Lebogang Maile, sê die provinsiale regering maak vordering met die verkryging van 12,9-miljard-rand wat nodig is om sy gedeelte van die e-tolskuld te delg. Die regering het e-tol vroeër die jaar amptelik afgeskaf. Die provinsiale regering het ingestem om 30-persent van die byna 43-miljoen-rand te betaal en die Nasionale Tesourie die oorblywende 70-persent wat aan die Suid-Afrikaanse Nasionale Padagentskap geskuld word. Maile sê daar is verskeie moontlikhede vir befondsing op die tafel:
# Die polisie in Kenia ondersoek die moontlikheid dat kultusse of reeksmoordenaars betrokke is by die vyf sakke gevul met ledemate van ‘n aantal vroue wat die naweek op ‘n stortingsterrein in Nairobi aangetref is. Die liggame van nog ses vroue is Vrydag in sakke in die Mukura-krotbuurt gevind. Die land se polisiewaghond ondersoek ook of daar enige polisiebetrokkenheid was, want die sterftes kom te midde van wydverspreide menseregtevergrype deur beamptes tydens die onlangse versetoptrede teen die regering.
# Rugby: Springbokafrigter Rassie Erasmus het vyf spelers na die groep opgeroep vir Saterdag se toets teen Portugal in Bloemfontein. Die nuwe toevoegings is die losvoorspeler Elrigh Louw, die stut Nthuthuko Mchunu, en die nuwelinge heelagter Quan Horn, die haker André-Hugo Venter en die losvoorspeler Ruan Venter. Franco Mostert en Edwill van der Merwe is uitgelaat weens beserings en Damian de Allende is verskoon weens persoonlike redes. Daar is nou sewe nuwelinge in die groep van 41 spelers.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-6-sent teen die dollar, 19-rand-69-sent teen die euro en 23-rand-45-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 62-duisend-886-dollar-69-sent. Die prys van goud is twee-duisend-408-dollar-68-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 85-dollar-3-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….