Nuus 12:00
BULLETIN NUUSAGENTSKAP 30 November 12 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die Presidensie kondig aan hy het geen planne om diplomatieke bande met Israel te verbreek nie
# Die tydelike wapenstilstand tussen Israel en Hamas word verleng
# En, gimnastiek: Britse afrigters word verbied om atlete te weeg na verdoemende verslag
# Die Presidensie het aangekondig hy het geen planne om diplomatieke bande met Israel te verbreek nie. Dit kom ondanks die Parlement se onlangse mosie om ambassades te sluit. Die regering se buitelandse beleid, wat die voorreg van die uitvoerende gesag is, kan nie deur die Parlement voorgeskryf word nie. Die klagte by die Internasionale Strafhof en die beskrywing van Israel as apartheidstaat het nie tot diplomatieke optrede gelei nie. President Cyril Ramaphosa gaan intussen voort met dialoog oor die situasie in die Midde-Ooste en fokus op ingrypings terwyl hy sy misnoeë met Israel se optrede in Gaza te kenne gee.
Intussen is die tydelike humanitêre wapenstilstand tussen Israel en Hamas vir ‘n sewende dag verleng terwyl onderhandelings voortduur met die hoop op ‘n permanente skietstilstand in Gaza. Minstens 70 israeli’s en gyselaars met dubbele burgerskap is sedert die aanvang van die wapenstilstand verlede week vrygelaat in ruil vir 210 Palestynse gevangenes. Die eerste minister van Israel, Benjamin Netanyahu, het dit duidelik gestel dat hy nié ‘n meer blywende skietstilstand sal oorweeg nie. Hy sê Hamas moet geheel en al vernietig word om seker te maak daar bestaan geen nuwe bedreiging vir Israel in Gaza nie.
# Eskom het aangekondig fase 3-beurtkrag is vanoggend 10-uur ingestel tot 4-uur vanmiddag, danksy verbeterde opwekkings-herstel en noodreserwes. Daarna sal fase 4 geld tot 8-uur vanaand, gevolg deur fase 5 tot môreoggend 5-uur. Eskom sal later vandag verdere inligting gee.
# AfriForum eis die onmiddellike opheffing van die vereistes vir swart ekonomiese bemagtiging-status in watergebruiklisensie-aansoeke. Die burgerregte-organisasie beplan om ‘n dringende versoek aan die minister van Water en Sanitasie, Senzo Mchunu, te rig en waarsku oor ‘n moontlike klagte by die Suid-Afrikaanse Menseregtekommissie sou daar nie aan die eis voldoen word nie. Marais de Vaal van AfriForum meen die vereiste is onwettig en strook nie met die bepalings van die Nasionale Waterwet nie:
# Gimnastiek: Britse afrigters is verbied om atlete te weeg na die vrystelling van ‘n verdoemende verslag oor ingewortelde fisiese en emosionele mishandeling in die sport in die land. Die gewese gimnas Eloise Jotischky het verlede jaar ‘n siviele geding teen Britse Gimnastiek gewen omdat die afrigter Andrew Griffiths haar mishandel het. Sy sê hy het haar onderwerp aan onvanpaste gewigsbestuurs-tegnieke, en sê weeg is gebruik as straf. Griffiths word nie meer toegelaat om gimnaste af te rig nie.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-74-sent teen die dollar, 20-rand-52-sent teen die euro en 23-rand-80-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 37-duisend-703-dollar-53-sent. Die prys van goud is twee-duisend-43-dollar-20-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 83-dollar-63-sent per vat.
# Om mee af te sluit: Omgewingskundiges juig oor die geboorte van ‘n skaars Sumatraanse renoster in Indonesië. Die kleinste van alle renosters is op die lys van kritiek-bedreigde spesies en daar is slegs sowat 40 in die wêreld oor. Hulle word nog net op die Indonesiese eilande Sumatra en Borneo aangetref nadat dit ook inheems was aan Bhutan, Indië, Mianmar en Thailand. Die kalf het met geboorte sowat 25-kilogram geweeg. Dit is die eersteling van die sewejarige Delilah, terwyl sy pa, Harapan, vroeër uit Cincinatti oorgeplaas is.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….