Nuus 12:00
BULLETIN 23 Mei 12 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# President Ramaphosa verwelkom Ierland, Spanje en Noorweë se erkenning van Palestina
# Vivo Energy belê meer as 10-miljard-rand in Suid-Afrika na sy samesmelting met Engen
# En, Olimpiese Spele: Saskok sê die regte boustene is ingestel vir Suid-Afrika se span
# President Cyril Ramaphosa het Ierland, Noorweë en Spanje se besluit verwelkom om Palestina as ‘n staat te erken. Die drie Europese nasies sê hulle mylpaalbesluit is die beste manier om blywende vrede in die Midde-Ooste te bewerkstellig. Ramaphosa sê dit beteken Suid-Afrika se oproep vir die erkenning van Palestina, en vir ‘n vredesproses wat ‘n wapenstilstand insluit, is besig om steun te kry:
# Die minister van Handel, Nywerheid en Mededinging, Ebrahim Patel, sê Vivo Energy wat deur die globale verbruiksgoedere-handelaar Vitol besit word, gaan aanvanklik tien-miljard-rand in sy Suid-Afrikaanse bedrywighede belê. Dit volg ná sy samesmelting met Engen. Patel sê die belegging is deel van ‘n reeks verbintenisse tot openbare belang en mededinging wat werksverliese wil voorkom en voortgaan met kontrakte aan plaaslike raffinaderye:
# Minstens nege mense is dood, insluitend ‘n minderjarige, en sowat 50 beseer toe ‘n gedeelte van ‘n verhoog ingetuimel het tydens ‘n verkiesingsaamtrek in Mexiko se noordelike staat Nueve León. Amptenare sê ‘n rukwind het die ongeluk veroorsaak. ‘n Presidents-kandidaat, Jorge Álvarez Máynez, wat ‘n toespraak gelewer het toe die voorval plaasgevind het, het geringe beserings opgedoen. ‘n Navorsingsgroep, Data Civica, sê minstens 28 kandidate is in die aanloop tot die verkiesing op 2 Junie aangeval, waarvan 16 vermoor is.
# Olimpiese Spele: Die Suid-Afrikaanse Sportkonfederasie en Olimpiese Komitee sê hy is vol vertroue die regte boustene is ingestel vir die Olimpiese Spele wat op 26 Julie in Parys begin. Die eerste 39 atlete wat die land sal verteenwoordig, is verlede week aangekondig, insluitend Chad le Clos, Tatjana Smith, en Wayde van Niekerk. Saskok se vise-president, Lwandile Simelane, sê hulle het volle vertroue in die span:
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-37-sent teen die dollar, 19-rand-92-sent teen die euro en 23-rand-40-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 69-duisend-727-dollar-45-sent. Die prys van goud is twee-duisend-356-dollar-21-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 81-dollar-88-sent per vat.
# En ten slotte: ‘n Globale aansien-peiling deur Brand South Africa het die land as gematig positief beskryf met ʼn telling van 3,1 uit ses op die Likert-skaal, ondanks probleme soos korrupsie, misdaad en onbestendigheid. Meer as tien-duisend deelnemers uit 70 wêreldmarkte het aan die peiling deelgeneem. Suid-Afrika het gematig negatief presteer wat bestuur en interne beleid betref, en gematig positief in buitelandse sake, kultuur en ekostelsels. Ebrahim Deen van Brand SA sê die meerderheid deelnemers het die dierelewe en mooi natuur uitgesonder as dinge wat die land laat uitstaan.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….