NUUSFLITS NUUSAGENTSKAP 16 November 12 nm
Goeiemiddag,
In die bulletin:
# Ses immigrasie-amptenare en ‘n polisielid kry borgtog ná beweerde grens-korrupsie
# Limpopo se regering skenk glim-bande vir rondloperdiere aan boere om padongelukke te voorkom
# En Aiden Markram en Anrich Nortjé is benoem in die T20-Wêreldbekertoernooi se Waardevolste Span
# Ses immigrasie-amptenare, ‘n polisielid en ‘n smous moet vroeg volgende maand na die Landdroshof in Komatipoort terugkeer nadat ‘n span van die Valke en Binnelandse Sake se teenkorrupsie-eenheid hulle aangekeer het. Hulle word beskuldig van die uitreiking van tydelike woon- en werkspermitte vir onwettige immigrante by die Lebombo-grenspos. Die polisie sê die smous, Arlinda Passe, ‘n buitelandse burger, is borgtog geweier en die ander sewe is borgtog van twee-duisend-rand elk toegestaan. Die saak is uitgestel tot 3 Desember.
Die onbeskaamde beweerde korrupsie deur dieselfde mense wat wet en orde by Suid-Afrikaanse grense moet handhaaf, dui op ‘n gebrek aan uitvoerende toesig deur die Departement van Verdediging en die Suid-Afrikaanse Nasionale Weermag. Dit is hoekom die minister van Verdediging en Militêre Veterane, Thandi Modise, drasties moet optree, sê DA-parlementslid, Kobus Marais. Hy meen die onthulling deur die media van beweerde korrupsie by die Beitbrug-grenspos dui op voortdurende probleme met korrupsie:
Speel klankgreep: ENG KobusMaraisOnCorruptionSANDF
# Die regering van Limpopo het ‘n vernuwende manier gevind om die toenemende aantal ongelukke te bekamp wat deur rondloperdiere op paaie veroorsaak word. ‘n Woordvoerder van die Departement van Vervoer, Mike Maringa, sê die aantal voertuie op paaie sal na verwagting in die feestyd toeneem. Hy sê hulle skenk daarom glimbande aan boere vir plaasdiere soos beeste om sodoende padveiligheid te bevorder:
Speel klankgreep: ENG MikeMaringaReflectorBelts
# Krieket: Twee Suid-Afrikaners is benoem in die Internasionale Krieketraad se Waardevolste span van die T20-Wêreldbekertoernooi. Hulle is die Protea-kolwer Aiden Markram en die snelbouler Anrich Nortjé. Australië het die toernooi gewen toe hy Nieu-Seeland met agt paaltjies geklop het. Babar Azam van Pakistan is die kaptein van die span, terwyl die speler van die toernooi, David Warner, en Jos Buttler van Engeland sal open. Ander spelers in die span is Moeen Ali, Charith Asalanka, Wanindu Hasanranga, Adam Zampa, Josh Hazlewood en Trent Boult. Die Pakistanse pasaangeër Shaheen Afridi is as die 12de speler aangewys.
# Finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 15-rand-23-sent teen die dollar, 17-rand-32-sent teen die euro en 20-rand-51-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 61-duisend-212-dollar-3-sent. Die prys van goud is een duisend-872-dollar-22-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 82-dollar-70-sent per vat.
# En ten slotte: Die eThekwini-munisipaliteit werk aan ‘n vyfpuntplan om die tekort aan ruimte vir grafte op te los. Daar word onder andere grond aangewys vir nuwe begraafplase. Volgens berigte kon die munisipaliteit nie meer voldoen aan die vraag na plek om mense te begrawe nie. Meer as drieduisend mense word tans maandeliks in die stad begrawe teenoor 700 in normale omstandighede. Die munisipaliteit se woordvoerder, Msawakhe Mayisela, sê gemeenskappe is huiwerig om ander metodes te oorweeg.
Vir die jongste nuusgebeure, bly ingeskakel op ……………….