NUUSFLITS NUUSAGENTSKAP 15 November 12 nm
Goeiemiddag,
In die bulletin:
# Heineken bied aan om Distell te koop in ‘n transaksie ter waarde van R40-miljard
# Cyril Ramaphosa sê die Maatskaplike Indiensnemingsfonds sal meer werksgeleenthede skep
# En die stigter van Gift of the Givers word met ‘n spesiale toekenning in KZN vereer
# Suid-Afrika se grootste alkoholprodusent, Distell, het bevestig Heineken het ‘n koop-aanbod gemaak tydens ‘n transaksie wat op ongeveer 40,1-miljard-rand neerkom. Distell se handelsmerke sluit in Hunter’s Dry, Savanna, Nederburg, JC Le Roux, Richelieu, Klipdrift en Amarula. Die Nederlandse brouer koop ook 25-persent van Heineken Suid-Afrika wat aan Namibië Brouerye Beperk behoort. Die uitvoerende hoof van Heineken, Dolf van den Brink, sê hierdie aanbod is ‘n teken van vertroue in Suid-Afrika en Namibië se langtermyn-vooruitsigte.
# President Cyril Ramaphosa sê die nuutgestigte Maatskaplike Indiensnemingsfonds sal nie alleen meer werksgeleenthede skep nie, maar is ook ‘n kritieke dryfveer van ontwikkeling en maatskaplike opheffing. Altesaam 80-miljoen-rand is aan die fonds toegeken wat na verwagting sowat 50-duisend werksgeleenthede sal skep. Ramaphosa sê in sy weeklikse nuusbrief nie minder nie minder nie as 80-persent van die geld wat ontvang word, word vir salarisse bestee. Hy voeg by dit sal verseker dat die werk wat die fonds ondersteun arbeidsintensief is en betekenisvolle ervaring en werklike maatskaplike waarde bied.
# Die Wes-Kaap is een van die talle plekke in Suid-Afrika wat ‘n traagheid vir Covid-19-inentings ondervind vir mense van 50 jaar en ouer. Ongeveer 53-persent van dié ouderdomsgroep is volledig ingeënt en 6-persent gedeeltelik. ‘n DA-LPW, Wendy Kaizer-Philander, sê die verwagte vierde vlaag Covid-19-infeksies sal na verwagting oor die Desember-tydperk plaasvind. Sy sê maatreëls word ingestel om individue te help om onsekerheid oor inentings uit die weg te ruim:
Speel klankgreep: AFR WendyPhilanderOorVierdeVlaag
# Tennis: Die wêreld se nommer een-speler, Novak Djokovic van Serwië, kom vandag teen Casper Ruud van Noorweë te staan in die ATP-eindtoernooi in Turyn, Italië, terwyl Stefanos Tsitsipas van Griekeland en die Rus Andrey Rublev kragte meet. Gister moes die plaaslike held Matteo Berrettini hom weens ‘n besering onttrek aan sy rondomtalie-wedstryd teen Alexander Zverev. Die Duitser het die eerste stel gewen en 1-0 voorgeloop in die tweede toe Berrettini nie kon voortgaan nie. Hy het skynbaar ‘n buikbesering opgedoen en sal vandag skanderings ondergaan om te bepaal of hy môre kan speel.
# Finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 15-rand-21-sent teen die dollar, 17-rand-42-sent teen die euro en 20-rand-41-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 66-duisend-81-dollar-2-sent. Die prys van goud is een duisend-860-dollar-76-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 81-dollar-49-sent per vat.
# En ten slotte: Die stigter van die humanitêre organisasie Gift of the Givers, Imtiaz Sooliman, het tydens sy 29-jaar van diens aan mense talle toekennings en lof verdien. Nou het sy alma mater, die Universiteit van KwaZulu-Natal se mediese skool, sy pogings erken met ‘n spesiale toekenning. Die dekaan en hoof van die universiteit se mediese skool, Ncoza Dlova, het ‘n projek begin wat hul alumni vereer terwyl hulle nog leef. Sy sê as ‘n voormalige gegradueerde van die mediese skool, sal Sooliman hul eerste ontvanger wees.
Vir die jongste nuusgebeure, bly ingeskakel op ……………….