Nuus 12:00
BULLETIN 20 Mei 12 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# President Ramaphosa rou oor die dood van president Ebrahim Raisi van Iran
# Die Departement van Verdediging verwerp Mapisa-Nqakula se versoek vir hulp met haar regskoste
# En, tennis: Zverev is na sy Italiaanse sege vol vertroue voor die Franse Ope
# President Cyril Ramaphosa het hartseer uitgespreek oor die dood van die president van Iran, Ebrahim Raisi, die minister van Buitelandse Sake, Hossein Amir-Abdollahian, en nog sewe mense. Hulle het in digte mis in ‘n helikopter-ongeluk gesterf in die noorde van die land. Ramaphosa se woordvoerder, Vincent Magwenya, sê die president is geskok oor die buitengewone, ondenkbare tragedie wat ‘n merkwaardige leier geëis het van ‘n land waarmee Suid-Afrika sterk bilaterale verhoudings het:
# Die Departement van Verdediging en Militêre Veterane het die gewese speaker van die Nasionale Vergadering, Nosiviwe Mapisa-Nqakula, se versoek verwerp dat die departement haar regskoste moet betaal. Sy word van korrupsie aangekla nadat sy na bewering gunslone van 2,5-miljoen-rand van ‘n kontrakteur ontvang het terwyl sy minister van Verdediging en Militêre Veterane was. Mapisa-Nqakula is tans uit op borgtog van 50-duisend-rand. Die huidige minister, Thandi Modise, sê die betrokke owerhede het die saak deeglik oorweeg:
# Die Wes-Kaapse Departement van Maatskaplike Ontwikkeling sê ‘n ernstige tekort aan maatskaplike werkers is ‘n groot kopseer. Maatskaplike werkers in die provinsie hanteer elk tot 100 gevalle op ‘n keer en die departement het ‘n ratio van een maatskaplike werker vir elke vyf-duisend mense. In landelike gebiede is die verhouding een maatskaplike werker vir elke twee-duisend-500 mense. Die departement sê hy hersien tans sy bedryfstruktuur en die hoofdirekteur kyk na die poste-struktuur en personeelkwessies.
# Tennis: Die 27-jarige Alexander Zverev van Duitsland sê hy is vol vertroue in aanloop tot die Franse Ope nadat hy sy tweede Italiaanse Ope-titel in Rome gewen het. Die derde gekeurde Duitser het Nicolas Jarry van Chili 6-4, 7-5 geklop om sy sesde Meesters Een-duisend-kroon op te raap. Dis sy grootste titel sedert hy in 2022 sy enkel beseer het in die halfeindronde op Roland Garros. Zverev, wat vandag opgeskuif het na vierde op die wêreldranglys, sê hy hoop hy kan hierdie momentum oordra na Parys:
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-16-sent teen die dollar, 19-rand-75-sent teen die euro en 23-rand-6-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 66-duisend-917-dollar-61-sent. Die prys van goud is twee-duisend-440-dollar-36-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 84-dollar-15-sent per vat.
# En, dis vandag Wêreld-byedag om mense bewus te maak van hierdie bestuiwers se belangrikheid, die probleme wat hulle bedreig en hulle bydrae tot volhoubare ontwikkeling. Vanjaar se tema is “Bye en die Jeug” en beklemtoon hoe noodsaaklik dit is dat jongmense betrokke raak by byeboerdery en pogings om dié bestuiwers te bewaar. Die Verenigde Nasies sê die doel is om maatreëls te verskerp wat bye en ander bestuiwers beskerm. Die VN voeg by dit sal aansienlik bydra om probleme met wêreldwye voedselsekerheid op te los.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….