NUUSFLITS NUUSAGENTSKAP 18 Januarie 11 vm
Goeiemôre,
In die bulletin:
# Die Noord-Gautengse Hooggeregshof het ten gunste van Afriforum beslis dat matriekuitslae gepubliseer mag word.
# David Mabuza sê wetstoepassings-agentskappe moet kans kry om bewerings teen die Oos-Kaapse premier te ondersoek
# En tennis: Novak Djokovic is terug in Serbië terwyl sy deelname aan die Franse Ope nou ook in gedrang is
# Ons het pas verneem die Noord-Gautengse Hooggeregshof in Pretoria het ten gunste van Afriforum beslis dat matriekuitslae in koerante en op ander mediaplatforms gepubliseer mag word. Meer hieroor in ons volgende bulletin.
# Wetstoepassings-agentskappe moet tyd gegun word om hulle ondersoek na die Oos-Kaapse premier, Oscar Mabuyane, se beweerde wanaanwending van fondse af te handel. Dit was die antwoord van adjunkpresident David Mabuza op ‘n parlementêre vraag van Tevin Apleni van die EFF. Mabuyane is onder skoot nadat die Openbare Beskermer, Busisiwe Mkhwebane, bevind het hy het onregmatig voordeel getrek ut ‘n tender vir die gedenkdiens van die ANC-veteraan Winnie Madikizela-Mandela. Sy het die Valke gelas om bewerings te ondersoek dat Mabuyane tot 450-duisend-rand ontvang het.
# Die burgemeester van Tshwane, Randall Williams, sê Eskom is ‘n mislukte staatsinstelling en moet so gou moontlik ontbondel en geprivatiseer word. Hy het gereageer nadat Eskom ‘n tariefverhoging van 20,5-persent vir die 2022/23-boekjaar geëis het. Williams sê in ‘n ekonomies moeilike tyd in die land, sal die voorgestelde verhogings tot ‘n verlies aan werksgeleenthede lei. Hy sê verder Tshwane se inwoners en die stad kan dit nie bekostig nie, aangesien hulle in die lig van die Covid-19-pandemie volhoubare ekonomiese herstel nodig het:
Speel klankgreep: ENGRandallWilliamstwo
# ‘n Veertigjare vrou is dood terwyl ‘n tweede vrou ernstig beseer is toe hulle in Kemptonpark aan die Gautengse Oos-Rand deur weerlig getref is. Emer-G-Med se woordvoerder, Kyle van Reenen, sê hulle paramedici is na die voorval in Jones-weg uitgeroep:
Speel klankgreep: ENGKylevanHeenen
# Tennis: Talle ondersteuners en die wêreldmedia het die wêreld se voorste speler, Novak Djokovic, ingewag toe hy in Serwië tuis gekom het na sy beproewing in Australië. Hy is die naweek gedwing om Melbourne te verlaat nadat sy visum ‘n tweede keer ingetrek is, wat hom die kans ontneem het om sy Australiese Ope-titel te verdedig. Intussen word berig Djokovic se standpunt teen inenting kan verder getoets word nadat Franse owerhede gewaarsku het oningeënte spelers gaan nie welkom wees om in Mei aan die Franse Ope deel te neem nie.
# Finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 15-rand-46-sent teen die dollar, 17-rand-63-sent teen die euro en 21-rand-9-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 41-duisend-997-dollar-1-sent. Die prys van goud is een duisend-814-dollar-13-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 87-dollar-87-sent per vat.
# En ten slotte, die wêreld se grootste bekende geslypte diamant gaan na verwagting sowat 77-miljoen-rand haal wanneer dit vroeg volgende maand opgeveil word. Die Enigma, wat as die grootste deftige swart diamant van natuurlike kleur beskryf word, word van gister af in Dubai ten toon gestel. Dit sal ook in Los Angeles en Londen te sien wees voor Sotheby’s se sewedaagse aanlyn veiling op 3 Februarie begin. Die edelsteen van 555-karaat is in 55 vlakke geslyp en die vorm is gegrond op die Midde-Oosterse palm-vormige simbool van mag en beskerming.
Vir die jongste nuusgebeure, bly ingeskakel op ……………….