Nuus 11:00
BULLETIN 11 Februarie 11 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# NRO’s gaan hul stem dikmaak oor Konsep Witskrif oor Menslike Nedersettings
# Nóg twee in hegtenis geneem in LEAP-beampte se moordsaak
# En, Rugby: Engeland kom van agter en klop Wallis in die Sesnasies-reeks
# Die minister van Menslike Nedersettings, Mmamoloko Kubayi, en die adjunk Minister, Pam Tshwete, sal ‘n rondetafelgesprek met NRO’s en Burgerlike Samelewingsorganisasies aanbied oor die Konsep Witskrif oor Menslike Nedersettings. Die ministerie se woordvoerder, Hlengiwe Nhlabathi-Mokota, sê die doel met die witdskrif, is om die departement se benadering tot die verskaffing van behuising te verbeter, en sodoende voldoende behuising te verskaf aan kwalifiserende begunstigdes. Die sperdatum vir openbare kommentaar is 28 Februarie 2024:
# Die DA-leier, John Steenhuisen, en die nasionale woordvoerder, Solly Malatsi, gaan môre strafregtelike klagte teen adjunkpresident Paul Mashatile by die Kaapstadse-polisiestasie indien. Dit volg op blootleggings oor bewerings van korrupsie en staatskaping wat strek oor byna twee dekades. Die DA het ‘n dossier by president Cyril Ramaphosa ingedien waarin optrede geëeis word, maar nog geen reaksie is ontvang nie. Steenhuisen beklemtoon die noodsaaklikheid van aanspreeklikheid en regstappe.
# Die polisie het nóg twee verdagtes aangekeer in verband met die moord op ‘n LEAP-beampte, Siphelo Magwa, in Crossroads, Kaapstad. Magwa is in Mei verlede jaar saam met twee ander mans vermoor terwyl hy van diens af was. Die Wes-Kaapse polisiewoordvoerder, FC Van Wyk, bevestig die arrestasies, met een verdagte wat by ‘n mediese fasiliteit in Crossroads aangehou word en die ander verdagte wat by die huis in Mitchells Plain in hegtenis geneem is. Albei sal môre in die Landdroshof in Athlone verskyn.
# President Cyril Ramaphosa het meegevoel namens Suid-Afrikaners uitgespreek, ná die heengaan van die voormalige Namibiese president Hage Geingob. Hy het tydens sy besoek in Windhoek gepraat en Geingob se pogings om Namibiërs te verenig, én sy verbintenis tot etiese beginsels geloof. Ramaphosa het ook erkenning gegee aan Geingob se visie vir sterker bande tussen Namibië en Suid-Afrika:
# En, laastens: Rugby: Engeland het ‘n rustyd-agterstand van nege punte omvergewerp toe hulle Wallis gisteraand op Twickenham met 16-14 geklop het om dit twee oorwinnings uit twee in die Sesnasies-reeks te maak. Die gashere, wat vroeg reeds 13 spelers was ná twee geelkaarte, was rustyd met 14-5 agter ná ‘n Wallis-strafdrie en ‘n drie teenoor ‘n drie. Vroeër op Murrayfield het Frankryk vasgebyt om met 20-16 teen Skotland te wen. Skotland het vir die grootste deel van die wedstryd voorgeloop met ‘n drie en drie strafskoppe.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….