Nuus 11:00
BULLETIN 8 Februarie 11vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# RISE Mzansi verwag nie die staatsrede gaan die land se ware stand weerspieël nie
# Amnestie Internasionaal Suid-Afrika sê president Ramaphosa moet politiekery vermy en verantwoordelikheid neem
# En rugby, die Wes-Kaap gaan ‘n tweede agtereenvolgende jaar die onder 20-Wêreldkampioenskap aanbied
# RISE Mzansi sê die staatsrede sal soos gewoonlik nie die moeilike omstandighede waaronder landsburgers leef, weerspieël nie. President Cyril Ramaphosa lewer vanaand sy staatsrede wat die regering se belangrike en lewerbare doelwitte uiteensit vir die jaar wat voorlê. RISE Mzansi se woordvoerder, Mabine Seabe, sê die party sal kyk of die kwessies soos in die People’s Manifesto uiteengesit is, betekenisvolle aandag kry:
Amnestie Internasionaal Suid-Afrika sê intussen Ramaphosa moet politiekery vermy wanneer hy vanaand sy staatsrede lewer. ‘n Woordvoerder van die organisasie, Shenilla Mohamed, sê die president moet ʼn nugter ontleding van die situasie in die land gee, verantwoordelikheid neem en werkbare oplossings bied wat onmiddellik ingestel kan word. Sy het aan Newzroom Afrika gesê Suid-Afrikaners is moeg vir leë beloftes:
# Die premier van die Wes-Kaap, Alan Winde, sê die gevolge van die nasionale begrotingsbesnoeiings wat ingestel is raak nie net gesondheidsdienste nie, maar ook onderwys en maatskaplike ontwikkeling. Die Wes-Kaap se provinsiale toedeling is oor die volgende drie jaar met altesaam 6,7-miljard-rand besnoei as deel van die Nasionale Tesourie se fiskale konsolidasie. Winde sê die eerlike waarheid is dat die omvang van die begrotingsbesnoeiings nou so groot is dat dit bykans onmoontlik sal wees om die verlies aan befondsing van die nasionale begroting te versag.
# Die Zimbabwiese regering het na sy eerste kabinetsvergadering van die jaar sy voorneme verklaar om die doodstraf af te skaf. Twee-en-sestig gevangenes wag tans op die doodstraf, wat ingevolge wetgewing toegelaat word vir moord met verswarende omstandighede, beperk tot mans tussen 21- en 70-jaar. Die voorgestelde wet wil die doodstraf vervang met swaar vonnisse vir moordenaars terwyl dit steeds ‘n afskrikmiddel is. Zimbabwe het sedert 1980 79 mense tereggestel, die laaste in 2005. Die Parlement sal binnekort oor die wetgewing stem.
# Rugby: Die onder 20-Wêreldkampioenskap word in Junie en Julie vanjaar weer in die Wes-Kaap aangebied. Die Junior Springbokke wat verlede jaar die brons medalje verower het, sal weer die toeskouers tuis wil beïndruk. Suid-Afrika is in Groep C ingedeel saam met Engeland, Argentinië en Fidji. Die uitvoerende hoof van SA Rugby, Rian Oberholzer, sê hulle is vasberade om op verlede jaar se vertoning te verbeter en ‘n onvergeetlike wêreldklas-toernooi aan te bied, wat spelers, amptenare en rugby-ondersteuners terdeë sal geniet.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-89-sent teen die dollar, 20-rand-37-sent teen die euro en 23-rand-86-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 44-duisend-508-dollar-62-sent. Die prys van goud is twee-duisend-en-34-dollar-39-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 79-dollar-53-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….