Nuus 11:00
BULLETIN 7 Februarie 11 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Nat-joints sal nie ontwrigting of wetteloosheid tydens die Staatsrede duld nie
# Beurtkrag word tot fase een verlaag, danksy ‘n verbetering in opwekkingskapasiteit
# En krieket, Nieu-Seeland klop Suid-Afrika en neem ‘n een-nul voorsprong in die toetsreeks
# Die Nasionale Gesamentlike Operasionele en Intelligensiestruktuur sê hy is tevrede dat alle ontplooiings gereed is om te verseker die Staatsrede word môre in ‘n veilige omgewing gelewer. Die Parlement bied die geleentheid vir die derde maal in die Kaapstadse stadsaal aan nadat ‘n brand die saal van die Nasionale Vergadering verwoes het. ‘n Polisiewoordvoerder, Atlhenda Mathe, sê wetstoepassingsbeamptes sal geen ontwrigting duld nie:
# Eskom het beurtkrag van tienuur vanoggend tot tweeuur vanmiddag na fase een afgeskaal waarna fase twee tot verdere kennisgewing sal geld. Die kragvoorsiener sê dit word toegeskryf aan voldoende noodreserwes en ʼn effense verbetering in beskikbare opwekkingskapasiteit. Dit het daartoe gelei dat twee eenhede weer in diens gestel kon word. Hy voeg by die kragstelsel word fyn dopgehou vir enige beduidende veranderinge wat gekommunikeer sal word indien dit nodig is.
# Kaapstad se burgemeester, Geordin Hill-Lewis, doen ‘n beroep op president Cyril Ramaphosa om deurtastende maatreëls aan te kondig om die krisis van onwettige vuurwapens wat bendegeweld aanvuur, en wapen- en dwelmmisdaad in Kaapstad en die res van die land te hanteer. Die president lewer môre sy staatsrede. Hill-Lewis sê hulle soek sterk optrede om korrupsie-elemente in die polisiediens wat met bendes saamwerk, te stop. Hy vra ook dat meer polisiëringsmagte na munisipale wetstoepassing afgewentel word:
# Die Amerikaanse Huis van Verteenwoordigers het ʼn Republikeins-geleide wetsontwerp verwerp wat hulp van meer as 331-miljard-rand aan Israel wou gee. Altesaam 250 was daarteen en 180 daarvoor wat nie die tweederde-meerderheid gehaal het om die wetsontwerp te aanvaar nie. Die Demokratiese kongreslid, Alexandria Ocasio-Cortez, sê Amerika moet by sy wette en beleide hou en dit verbied Amerikaanse hulp aan magte wat menseregte skend en internasionale humanitêre wette oortree:
# Krieket: Nieu-Seeland het Suid-Afrika met 281 lopies verslaan in die eerste toets op die Bay Oval in Mount Maunganui en loop een-nul voor in die reeks van twee toetse. Die Proteas is ‘n onwaarskynlike teiken van 529 gestel nadat die tuisspan op hul oornagtelling van 179 vir vier verklaar het. ‘n Vennootskap van 105-lopies om die vyfde paaltjie tussen David Bedingham en Keegan Petersen was nie genoeg nie en Suid-Afrika is in 80 boulbeurte uitgehaal vir 247. Die tweede en laaste toets begin Dinsdag in Hamilton.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-84-sent teen die dollar, 20-rand-29-sent teen die euro en 23-rand-77-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 42-duisend-947-dollar-71-sent. Die prys van goud is twee-duisend-en-35-dollar-19-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 78-dollar-53-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….