Nuus 11:00
BULLETIN 6 Februarie 11 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die TLU SA beskuldig die ANC dat hy die verhoging in die minimum loon gebruik om stemme te koop
# Die Suid-Afrikaanse Mediese Verening-vakbond kritiseer die Departement van Gesondheid oor werklose junior dokters
# En sokker, minister Kodwa gaan Bafana Bafana se Afrikabeker-halfeindstryd teen Nigerië bywoon
# Die landbou-organisasie, TLU SA, beskuldig die ANC dat hy probeer stemme koop deur die minimum loon te verhoog eerder as om op werkskepping te fokus. Die regering het die nasionale minimum loon van die eerste van volgende maand met 8,5-persent tot 27-rand-58-sent per uur verhoog. Die besluit is op aanbeveling van die Nasionale Minimumloonkommissie geneem. TLU SA se woordvoerder, Bennie van Zyl, sê die verhoging sal tot meer afleggings lei:
# Die mediese vakbond SAMATU eis dat die Departement van Gesondheid ‘n toegewyde taakspan aanstel vir die onmiddellike indiensneming van mediese dokters. Daar is tans 645 werklose junior dokters wat steeds wag om aangestel te word nadat hulle in Desember hul gemeenskapdiens voltooi het. Minister Joe Phaahla het dié hoë syfer van werklose afgestudeerde mediese studente toegeskryf aan die toenemende druk op die begrotings vir gesondheidsorg. SAMATU sê hy is bekommerd oor die duidelike afwesigheid van strategiese oplossings in die departement om die studente in die gesondheidstelsel op te neem.
# Die Stad Tshwane sê die ondersoek na bewerings van bedrog teen sy onderburgemeester, Nasiphi Moya, gaan voort. Sy het na bewering in 2020 ‘n reistoelaag van tien-duisend-rand vir haarself gehou nadat ‘n werksbesoek na Saoedi-Arabië afgestel is. Moya sê sy het nie die geld gesteel nie, maar het dit weens ʼn gebrek aan oordeel gehou. Tshwane se woordvoerder, Sipho Stuurman, sê die onderburgemeester is gewillig om saam te werk en die geld terug te betaal voor die ondersoek afgehandel is. Hy sê dit toon aanspreeklikheid.
# Die Sekretaris-Generaal van die Verenigde Nasies, António Guterres, het ‘n onafhanklike hersieningsgroep aangewys om die VN se hulpagentskap in Gaza te ondersoek. Dit volg op beskuldigings dat minstens 12 personeellede van die agentskap verlede jaar by Hamas se aanval op Israel betrokke was. Sowat 16 lande het as gevolg daarvan hul befondsing gestaak. Sowat 8,47-miljard-rand is as gevolg daarvan in gedrang. Guterres sê die groep sal onder meer die meganismes en prosedures identifiseer wat die agentskap gebruik om neutraliteit te verseker en om op bewerings reageer.
# Sokker: Die minister van Sport, Kuns en Kultuur, Zizi Kodwa, gaan na die Ivoorkus reis om Bafana Bafana môre te ondersteun in hulle Afrikabeker-halfeindstryd teen Nigerië. Nigerië – die gunsteling om die kragmeting te wen – wil die trofee vir ‘n vierde keer verower nadat hulle dit laas in 2013 kon regkry. Die minister se woordvoerder, Litha Mpondwana, sê Kodwa vra Suid-Afrikaners om hulle agter Bafana Bafana te skaar in hul briljante en geskiedkundige vertoning in die toernooi:
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-93-sent teen die dollar, 20-rand-37-sent teen die euro en 23-rand-78-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 42-duisend-735-dollar-12-sent. Die prys van goud is twee-duisend-en-27-dollar-56-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 78-dollar-11-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….