Nuus 11:00
BULLETIN 13 Maart 11 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die GOOD Party eis dat die Wysigingswetsontwerp op Verkiesingsake betwis word
# Business Leadership SA sê die voortdurende waterprobleme hou ‘n bedreiging in vir die ekonomie
# En tennis: Die verdedigende kampioen, Carlos Alcaraz, haal die laaste agt in Indian Wells
# Die GOOD Party sê die Wysigingswetsontwerp op Verkiesingsake wat gister in die Nasionale Vergadering aanvaar is, moet in die hof betwis word. Die wetgewing verander die formule van hoe politieke partye en onafhanklikes wat in wetgewers verteenwoordig word, befondsing van die regering ontvang. GOOD se sekretaris-generaal, Brett Herron, sê die wetsontwerp is ‘n verskuilde reaksie deur die ANC om druk uit te oefen op nuwe partye wat die wese van die Suid-Afrikaanse politiek verander:
# Business Leadership South Africa vra die regering om te beplan hoe om nuwe bedreigings vir die ekonomie, insluitend watervoorsiening, te hanteer. Inwoners in dele van Gauteng en KwaZulu-Natal ervaar toenemend gereelde en langdurige wateronderbrekings. Die Bloudruppelverslag wat in Desember vrygestel is, toon 227 van die land se 985 watervoorsieningstelsels is in ʼn haglike toestand. Die sake-organisasie se uitvoerende hoof, Busisiwe Mavuso, sê die verbrokkelende infrastruktuur, beurtkrag en ʼn kultuur van ni-ebetaling onder verbruikers is die oorsaak van die mislukking.
# Die ANC in Ekurhuleni aan die Gautengse Oos-Rand sê hy is teleurgestel oor die ongekwalifiseerde ouditverslag met bevindinge wat die metro vir die 2022/23-boekjaar van die Ouditeur-generaal ontvang het. Dis die eerste keer in drie jaar dat die metro nie ʼn skoon oudit kry nie. Die Ouditeur-generaal het bevind 516-miljoen-rand was onregmatige uitgawes. Die ANC sê hierdie verslag bevestig die party se waarneming oor die skielike gebrek aan deeglike politieke oorsig oor finansiële sake en verkrygingsbestuur in Ekurhuleni.
# Die Withuis het weer ʼn beroep op Hamas gedoen om vroue, bejaardes en gewonde gyselaars vry te laat en ʼn tydelike skietstilstand in die konflik met Israel te aanvaar. Hamas sê hy sal slegs ʼn ooreenkoms aanvaar wat gegrond is op ʼn permanente skietstilstand, die beëindiging van die oorlog en dat Israelse soldate uit Gaza onttrek. Die Withuis se nasionale veiligheidsraadgewer, Jake Sullivan, sê ʼn skietstilstand van ses weke sal tyd toelaat om ʼn meer permanente oplossing te beding:
# Tennis: Die verdedigende kampioen, Carlos Alcaraz, het Fabian Marozsan in skoon stelle geklop om die kwarteindronde in die Indian Wells-ope te haal. Die Spanjaard, wat verlede jaar in Rome hulle vorige kragmeting verloor het, het die Hongaar in net 75 minute met 6-3 en 6-3 verslaan. Alcaraz, wat volgende teen die Duitser Alexander Zverev te staan kom, sê hy is tevrede met sy vertoning:
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-69-sent teen die dollar, 20-rand-43-sent teen die euro en 23-rand-91-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 72-duisend-870-dollar-69-sent. Die prys van goud is twee-duisend-158-dollar-79-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 82-dollar-39-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….