Nuus 11:00
BULLETIN 2 Maart 11 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# ActionSA se leier sê Ramaphosa kies die regerende party bo Suid-Afrikaners
# Die VF Plus sê die ANC kan nie vertrou word met ‘n eensydige pandemie-ooreenkoms nie
# En, rugby: Blitsbokke spring swak weg in Los Angeles
# ActionSA se leier Herman Mashaba, sê pleks daarvan om die voormalige minister van Vervoer, Dipuo Peters af te dank vir haar rol in die versteking van korrupsie van 14-miljard-rand by Prasa, kies president Cyril Ramaphosa wéér die eenheid van die regerende party bo die belange van Suid-Afrikaners. Ramaphosa het Peters as adjunkminister van Kleinsake Ontwikkeling vir ‘n maand geskors. James de Villiers van ActionSA vra hoe dit moontlik is dat iemand wat aktief probeer het om miljarde in staatskaping te verdoesel, met ‘n ligte teregwysing daarvan afkom:
# Die Vryheidsfront Plus het ernstige bedenkinge oor Suid-Afrika se ondertekening van die internasionale verdrag oor die voorkoming van en paraatheid vir pandemies deur lidlande van die Wêreld-gesondheidsorganisasie. Philip van Staden van die VF Plus sê die ANC-regering het dit so dig gehou dat lede van die Parlement slegs daarvan te hore gekom het toe dit in Mei 2022 onder hulle aandag gebring is. Van Staden sê die ANC-regering het met die WGO onderhandel en moontlik alreeds die verdrag onderteken:
# Die Ritshidze-toestandverslag oor Gesondheidsorg vir die Sleutel-bevolkingsgroepe toon Suid-Afrika se openbare gesondheids-instellings ondervind ‘n ontstellende scenario. Die verslag fokus op sleutelgroepe soos mense met MIV/VIGS, sekswerkers, dwelmgebruikers en die LGBTQIA-plus-gemeenskap. Dit toon onrusbarende neigings rakende privaatheidskendings en beweerde ontkenning van teen-retrovirale middels. Die verslag maan ‘n kulturele verskuiwing is noodsaaklik vir openbare gesondheidsgeriewe om swak behandeling teen te werk. Dit sluit in kernpersoneel wat bevolkingsvriendelik optree vir ‘n beter gesondheidsorgstelsel. Die verslag gaan aan die Gesondheidsdepartement voorgelê word vir optrede.
# Rugby: Die Springbok-Sewes kon nie hulle belofte van ‘n beter vertoning vanoggend by die Los Angeles-toernooi nakom nie, toe Ierland hulle met 17-0 in hulle openingswedstryd afgeransel het. Conor O’Sullivan het in die openingsoomblikke ‘n drie gedruk en Zack Ward het in die eerste helfte twee keer punte aangeteken om die Blitsbokke te kniehalter. Die Suid-Afrikaners se paadjie is nou nog meer opdraende want hulle moet hulle volgende twee wedstryde wen. Die volgende een is vanaand teen die reeksvoorlopers Argentinië en hulle laaste wedstryd is vroeg môreoggend teen Spanje.
# En om mee af te sluit: Kaapstad sê hy steun ‘n projek vandag vir die optekening en inlywing van die lewende erfenis in die Bo-Kaap. Dit is deel van die voorgestelde herontwikkeling van die Strandstraat-gruisgroef. Die stad se onderburgemeester en burgmeesterskomiteelid vir Ruimtelike Beplanning en die Omgewing, Eddie Andrews, sê inwoners het vandag die kans om materiaal by te dra deur deel te neem aan die Storieverteldag waar mondelingse geskiedenis, herinneringe en ervarings van die Bo-Kaap oorvertel en opgeteken word:
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….