Nuus 11:00
BULLETIN 20 November 11 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# President Ramaphosa sê die konflik tussen Israel en Palestina moenie Suid-Afrikaners verdeel nie
# Die Suid-Afrikaanse Mediese Vereniging-vakbond is bekommerd oor die Palestynse humanitêre krisis
# En motorsport, Lewis Hamilton sê die Las Vegas Grand Prix het kritici verkeerd bewys
# President Cyril Ramaphosa sê die Israel-Palestina-kwessie is emosiebelaai, veral gegewe die land se geskiedenis, maar dit moenie verdeeldheid vererger nie. Die polisie moes verlede week by ʼn betoging in Kaapstad ingryp toe pro-Israel- en pro-Palestina-ondersteuners slaags geraak het. Ramaphosa sê in sy weeklikse nuusbrief daar is in Suid-Afrika geen plek vir geweld of dreigemente van geweld tussen groepe met verskillende standpunte nie. Hy sê die regering ondersteun ʼn regverdige, vreedsame en veilige toekoms vir die mense van Palestina én Israel.
Die Suid-Afrikaanse Mediese Vereniging-vakbond sê intussen hy is diep bekommerd oor die verdiepende Palestynse humanitêre krisis, spesifiek oor gesondheidsorgfasiliteite wat gebombardeer word. Meer as die helfte van die 35 hospitale in Gasa is nie meer operasioneel nie, te midde van Israel se bomaanvalle en grondoperasies, in reaksie op Hamas se aanvalle op 7 Oktober op suidelike Israelse gemeenskappe. SAMATU vra alle betrokkenes om internasionale humanitêre wette te handhaaf, en die beskerming te verseker van gesondheidsorgfasiliteite en mediese personeel, wat hul lewens waag om ander te red.
# Die ANC se onlangse gebruik van adjunkhoofregter Mandisa Maya se foto op ʼn verkiesingsregistrasie-plakkaat is ʼn aanduiding van die probleme wat voorlê. Dit is die mening van die politieke ontleder, Mpumelelo Mkhabela. Maya se gesig pryk op ʼn ANC-plakkaat wat op hulle sosialemedia-platforms gelaai is om mense aan te moedig om te registreer om te stem. Die party het bygevoeg die toekoms is hervorming en het ook genoem dat Maya die eerste vroulike adjunkhoofregter is. Mkhabela sê die ANC moet steeds regverdig waarom hy verdien om aan bewind te bly.
# Die Polisie in KwaZulu-Natal het ‘n soektog begin na ‘n groep verdagtes in verband met die moord op ‘n polisiebeampte en sakeroof in Westville gistermiddag. Die polisiewoordvoerder, Robert Netshiunda, sê ‘n verdagte, wat hom as ‘n klant voorgedoen het, het ‘n juwelierswinkel by die Pavilion-winkelsentrum binnegegaan, met minstens vier ander verdagtes wat hom gevolg en die winkel beroof het. Hy sê, nóg ‘n groep verdagtes het terselfdertyd by ‘n ander winkel ingestorm en ook ‘n onbekende hoeveelheid goue juweliersware geroof:
# Motorsport: Mercedes-renjaer Lewis Hamilton glo die aksiebelaaide Las Vegas Grand Prix het kritici verkeerd bewys wat gesê het dis vertoning bo substansie. Die sewemalige wêreldkampioen wat die wedren in die tiende plek begin het, het teruggeveg en sewende geëindig na 50 rondes vol drama. Max Verstappen van Red Bull het die wedren gewen en het met sy 18de oorwinning van die seisoen sy eie rekord verbeter. Hamilton sê hy het die wedren in Vegas geniet, ten spyte van probleme met die motor:
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-31-sent teen die dollar, 19-rand-99-sent teen die euro en 22-rand-85-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 37-duisend-216-dollar-85-sent. Die prys van goud is een-duisend-979-dollar-9-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 81-dollar-12-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….