Nuus 11:00
BULLETIN 28 Februarie 11 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Tax Justice South Africa verwelkom die Inkomstediens se reuse skadevergoedingseis teen Sasfin Bank
# Judges Matters sê Mandisa Maya se benoeming as Hoofregter is betekenisvol
# En, Anglikaanse biskoppe van Suider-Afrika vra vir ‘n onmiddellike skietstilstand in Gaza
# Tax Justice South Africa loof die Suid-Afrikaanse Inkomstediens nadat ‘n dagvaarding van meer as 4,8-miljard-rand vir skadevergoeding aan Sasfin Bank uitgereik is. Die eis hou verband met geld wat sedert 2014 landuit is en waar ʼn misdaadsindikaat na bewering met gewese werknemers van die bank saamgespan het om geld te was en wette oor buitelandse valuta te omseil. Tax Justice SA se stigter, Yusuf Abramjee, sê dié wat by hierdie massa-plundering betrokke is, moet aanspreeklik gehou word:
# Judges Matter sê president Cyril Ramaphosa se benoeming van adjunk-hoofregter Mandisa Maya as opvolger van Raymond Zondo is betekenisvol. Zondo se termyn as hoofregter verstryk op 31 Augustus. Indien sy aangestel word, sal Maya die land se eerste vroulike hoofregter wees. Ramaphosa het leiers van politieke partye wat in die Nasionale Vergadering verteenwoordig word, uitgenooi om voorleggings in te dien oor Maya se geskiktheid vir die amp. Judges Matter sê alhoewel raadpleging sinvol moet wees, is die president nie verplig om die insette van politieke partye of die Regterlike Dienskommissie te volg nie.
# eThekwini se burgemeester, Mxolisi Kaunda verwelkom die inhegtenisneming van ses verdagtes wat verbind word met die moord op die kletsrymer Kiernan ‘AKA’ Forbes en sy vriend, Tebello ‘Tibz’ Motsoane. Hulle is verlede jaar op 10 Februarie buite die Wish Restaurant in Floridaweg in Durban doodgeskiet. Die vermeende baasbrein is onder dié wat vasgetrek is en een verdagte is nog op vrye voet. Die eThekwini-munisipaliteit se woordvoerder, Gugu Sisilana, sê Kaunda glo die deurbraak toon die gereg sal enige iemand inhaal wat ʼn misdaad pleeg:
# Die Anglikaanse Biskoppe van Suider-Afrika vra ʼn onmiddellike skietstilstand in Gaza en veroordeel die finansiële en militêre bystand wat aan alle vegtende partye in die Midde-Ooste gegee word. Onderhandelings oor ʼn skietstilstand gaan voort terwyl byna 30-duisend mense in Gaza volgens berigte reeds dood is. Die biskoppe het in Kaapstad vergader waar hulle getuienisse aangehoor het van vier mense wat Israel en die Wesoewer verlede jaar besoek het. Die biskoppe sê hulle veroordeel die volksmoordretoriek van Israelse leiers en dat kos, water en medisyne volgens hulle geweier word.
# Rugby: Engeland se afrigter, Steve Borthwick, hou styf duimvas dat Marcus Smith betyds fiks sal wees vir die Sesnasies-kragmeting met Ierland. Die jong losskakel het ‘n kuitbesering opgedoen wat hom sover uit al drie sy land se wedstryde gehou het, met Engeland wat net-net teen Italië deurgeskraap, Wallis met twee punte geklop en teen Skotland verloor het. Die kompetisie hervat volgende naweek wanneer Italië Skotland in Rome die stryd aansê, Engeland wat Ierland op Twickenham pak, en Wallis wat in Cardiff teen Frankryk uitdraf.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 19-rand-17-sent teen die dollar, 20-rand-75-sent teen die euro en 24-rand-26-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 57-duisend-199-dollar-71-sent. Die prys van goud is twee-duisend-en-28-dollar-56-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 82-dollar-15-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….