Nuus 11:00
BULLETIN 19 November 11 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Beurtkrag word verhoog tot Fase 3
# President Ramaphosa doen ‘n beroep vir wydverspreide kiesersregistrasie
# En, adjunkpresident Mashatile stuur die 2023-2025 Takuwani Riime Men’s Movement-aksieprogram van stapel
# Eskom het tot vyf-uur môreoggend beurtkrag verhoog tot Fase 3. Die woordvoerder Daphne Mokoena sê die stap is noodsaaklik om noodreserwes aan te vul vir die week wat voorlê. Die besluit volg op Eskom se aankondiging van die veilige en suksesvolle sinchronisasie van Koeberg Eenheid 1 met die netwerk, na die vervanging van drie stoomopwekkers:
# President Cyril Ramaphosa moedig alle kiesers wat in aanmerking kom aan om aktief deel te neem aan die bepaling van Suid-Afrika se toekoms deur te registreer in vandag se Onafhanklike Verkiesingkommissie-registrasieveldtog. Ramaphosa het gepraat by die OVK-registrasiesentrum in Meadowlands, Soweto, en beklemtoon om ‘n geregistreerde kieser te word is die eerste deurslaggewende stap vir Suid-Afrikaners om beheer te neem van hulle toekoms. Hy onderstreep die belangrikheid van die gebruik van mense se vryheid deur hulle kruisies te trek, en moedig burgers wat kwalifiseer aan om hulle reg uit te oefen om by te dra tot die demokratiese proses:
# Die minister van Hoër Onderwys, Wetenskap en Innovering, Blade Nzimande, neem dié week deel aan die Europese Unie se Waterstofweek in Brussel in België. Dit volg op die EU se aankondiging van ‘n nuwe ambisieuse, langtermyn Regverdige Energie-oordragvennootskap om Suid-Afrika se koolstofverwyderingspogings te steun. Nzimande se toespraak op die konferensie sal fokus op die tema Koolstof en die globale uitdagings wat wag. Suid-Afrika se deelname is ‘n belangrike deel van die besprekingsreeks met die titel Diplomacy for Economic Development through Hydrogen.
# Die Britse professionele landloopatleet Tom Evans is op ‘n staproete op Tafelberg beroof, met ‘n mes aangehou en aangerand. Die 31-jarige Evans was in die Moederstad om te oefen vir volgende naweek se gewilde RMB Ultra-roete Kaapstad. News24 berig sy trouring, foon en horlosie is gesteel. In ‘n video wat gister op sosiale media geplaas is, sê Evans aan sy 60-duisend ondersteuners, hy is “platgeslaan” dat hy nie meer aan die byeenkoms kan deelneem nie en wens die hardlopers wat nog in Kaapstad is “alles van die beste” toe in die dae voor die geleentheid.
# En, laastens: Adjunkpresident Paul Mashatile neem, in sy rol as voorsitter van die Suid-Afrikaanse Nasionale Vigsraad, vandag deel aan die derde Nasionale Mansparlement. Hy neem ook die bekendstelling waar van die 2023-2025 Takuwani Riime Men’s Movement-aksieprogram. Die geleentheid by Masia in die Vhembe-distrik in Limpopo, is gemik op die teenwerk van geslagsgeweld en die verbetering van mans se gesondheid, met ‘n spesifieke fokus op die voorkoming van MIV en Vigs. Die program moedig mans aan om aktief by te dra tot sosio-ekonomiese ontwikkeling, terwyl hulle kritieke kwessies pak wat vroue se veiligheid en openbare gesondheid raak
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….