Nuus 09:00
BULLETIN 28 November 9 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# ‘n Politieke ontleder sê kiesers is moeg vir die ANC se korrupsie en onbevoegdheid
# Die Komitee vir vloedrampverligting en -herstel aanvaar sy verslag
# En, die GOOD Party verwelkom die skorsing van die Stad Kaapstad se sekuriteitshoof
# As die ANC homself nie vernuwe nie, gaan hy ‘n koalisie móét vorm na volgende jaar se algemene verkiesing, want kiesers is moeg vir die regerende party se korrupsie en onbevoegdheid. Dis die mening van die politieke ontleder, Omry Makgoale. In ʼn artikel in die Daily Maverick, sê hy die ANC kan slegs gered en vernuwe word as hy ten minste almal wat by bedrog en skandale betrek word uit die regering en staatsposte verwyder. Makgoale sê die ANC kan volgende jaar se algemene verkiesing verloor.
# Die parlementêre gesamentlike ad hoc-komitee oor vloedrampverligting en -herstel het sy verslag aanvaar oor die skade wat die oorstromings in die Oos-Kaap, KwaZulu-Natal en Noordwes veroorsaak het. Een van die aanbevelings is die insluiting van klimaatsverandering as belangrike oorweging in alle ingrypings by vloedrampverligting deur staatsinstellings. Dit is om beter begrip te skep vir die breër konteks waarin die vloedkrisis ontvou. Die komitee sê hy was oor die algemeen teleurgesteld met die regering se reaksie op die vloedrampe omdat talle verpligtinge nog nie nagekom is nie.
# Die GOOD Party in die Wes-Kaap het die skorsing van die Stad Kaapstad se hoof van die Veiligheid- en Sekuriteit-ondersoekeenheid, Reynold Talmakkies, verwelkom. Dit volg nadat bevind is hy het op onbehoorlike wyse opgetree teenoor ʼn landdros wat ʼn moordsaak hanteer het waarin sy seun, David, die beskuldigde was. Jonathan Cupido van die GOOD Party sê Talmakkies self staar oor ʼn ander saak ʼn strafregtelike klag in die gesig:
# Vyf verdagtes wat vermoedelik rowers is wat slagoffers van banke na hul huise gevolg het, is gister op die N14 by Ventersdorp in Noordwes dood in ʼn skietgeveg met die polisie. ʼn Vroulike verdagte is vasgetrek. Die Valke se woordvoerder, Katlego Mogale, sê hulle het intelligensie-gedrewe inligting ontvang dat verdagtes in ʼn silwergrys Toyota en wit VW Polo op pad was om ʼn bank in of naby Carletonville in Gauteng te beroof:
# Olimpiese Spele: Die Britse fietsryer Laura Kenny sê sy besef mense dink sy’s van haar wysie af omdat sy gaan probeer om aan ‘n vierde Spele deel te neem na die geboorte van haar tweede seuntjie, maar dié keer wil sy dit vir haarself doen. Die 31-jarige atleet het reeds vyf goue medaljes ingepalm in die vorige drie Spele waaraan sy deelgeneem het. Sy het haar deurbraak gemaak in 2012 se Spele in Londen, waar sy twee goues gewen het in baan-fietsry. Kenny sê daar is geen rede om haar loopbaan te beëindig weens haar bykomende ouerskapspligte nie.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-62-sent teen die dollar, 20-rand-40-sent teen die euro en 23-rand-52-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 37-duisend-128-dollar-41-sent. Die prys van goud is twee-duisend-en-14-dollar-23-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 80-dollar-4-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….