Nuus 09:00
BULLETIN 30 April 9 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Vandag is die sperdatum vir die MK-party om dokumente by die Konstitusionele Hof in te dien
# SA Toerisme verhaal R35-miljoen se onreëlmatige betalings vir ongelewerde dienste
# En die Amerikaanse minister van Buitelandse Sake is hoopvol dat Hamas die jongste skietstilstand-voorstel sal aanvaar
# Dis vandag die laaste dag waarop die MK-party dokumente by die Konstitusionele Hof kan indien om die Verkiesingskommissie se saak teen te staan dat Zuma nie as parlementêre kandidaat in die verkiesing mag staan nie. Die OVK appelleer teen ‘n beslissing van die Verkiesingshof wat bevind het die oudpresident se 15-maande-tronkstraf vir minagting van ʼn Konstitusionele Hof-bevel, is nie ʼn vonnis nie omdat hy nie kon appelleer nie. Die MK-party beskryf die OVK se appèl as ʼn politiek-gedrewe set wat deur eksterne druk beïnvloed is.
# Die minister van Toerisme, Patricia de Lille, sê 35-miljoen-rand is verhaal in verband met onreëlmatige betalings vir ongelewerde dienste. Dit volg op onreëlmatige betalings deur SA Toerisme se kantore in Amerika en Suid-Afrika. Uitvoerende amptenare van SA Toerisme wat die instelling intussen verlaat het, het die betalings einde Maart verlede jaar voorberei. De Lille sê dit is onaanvaarbaar dat amptenare wat met staatsgeld vertrou word, steeds met soveel minagting vir wetgewing en regulasies ten opsigte van openbare fondse optree. Die Ouditeur-generaal sal die kwessie ondersoek.
# Amerika se minister van Buitelandse Sake, Antony Blinken, het Hamas versoek om spoedig die jongste voorstel oor ‘n skietstaking te aanvaar. Die voorstel sluit in ‘n skietstaking van 40 dae in ruil vir die vrylating van gyselaars, en dat ontwortelde families na die noorde van Gaza kan terugkeer. Onderhandelaars van Egipte, Katar en Amerika is vir weke reeds besig met onderhandelings vir ‘n skikking. Blinken sê hy is versigtig optimisties dat Hamas die ooreenkoms sal aanvaar:
# Sokker: Amerika en Mexiko het hulle gesamentlike bod om die Vroue-wêreldbeker in 2027 aan te bied, teruggetrek en sal eerder op die 2031-toernooi fokus. Brasilië en ʼn gesamentlike bod deur België, Duitsland en Nederland is die enigste opsies wat oorbly. Amerika se sokkerpresident, Cindy Parlow Cone, sê dis ʼn groot onderneming om ʼn Wêreldbeker aan te bied en meer tyd om voor te berei, laat hulle toe om die uitwerking wêreldwyd te vergroot. Die Fifa-kongres sal volgende maand die gashere aanwys.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-68-sent teen die dollar, 20-rand teen die euro en 23-rand-44-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 63-duisend-528-dollar-11-sent. Die prys van goud is twee-duisend-325-dollar-19-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 87-dollar per vat.
# En ter afsluiting, President Cyril Ramaphosa ken vandag die Nasionale Ordes vir 2024 toe aan vooraanstaande landsburgers en buitelanders wat buitengewone bydraes tot demokrasie en die verbetering van Suid-Afrikaanse lewens gelewer het. Die woordvoerder van die Presidensie, Vincent Magwenya, sê hierdie toekennings is die hoogste eerbewyse in die land en verteenwoordig erkenning vir uitsonderlike prestasie en diens:
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….