Nuus 09:00
BULLETIN 22 April 9 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Vanjaar se verkiesings in die grootste demokrasieë wêreldwyd het steeds geen vroulike voorlopers nie
# SAFTU sê die drieparty-alliansie bedreig Cosatu se vermoë om werkers te verteenwoordig
# En, legendes soos Cher en Mary J. Blige word in die Rock ‘n Roll-heldesaal vereer.
# Vanjaar word beskou as ‘n toets vir demokrasieë se krag met meer as 50 lande wêreldwyd wat verkiesings hou, maar vroulike leierskandidate ontbreek. Ontleders van The Guardian sê die wêreld se grootste demokrasieë, Amerika, Indonesië en Indië het geen vroulike voorlopers nie. Dieselfde geld die Verenigde Koninkryk, Pakistan en Suid-Afrika. Navorsers by Stanford University sê daar is ʼn verskynsel van pragmatiese vooroordeel waar kiesers wat ʼn vroulike kandidaat verkies, steeds nie vir haar stem nie omdat hulle glo sy sal nie wen nie.
# Die Vakbondfederasie SAFTU sê hulle speel steeds ‘n deurslaggewende rol in die verdediging van die regte van werkers, die stryd teen ongeregtighede in die werkplek en die bevordering van die maatskaplik-ekonomiese belange van werkers. Die vakbondfederasie wat in 2017 gestig is het gister sy sewende bestaansjaar gevier. SAFTU se woordvoerder, Trevor Shaku, sê die teenstrydighede binne die drieparty-alliansie bedreig steeds Cosatu se vermoë om werkers te verteenwoordig:
# Die Stad Kaapstad se Direktoraat vir Veiligheid en Sekuriteit se konsepbegroting vir 2024/2025 is tot die einde van die maand beskikbaar vir openbare kommentaar. Die direktoraat se konsep-kapitaalbegroting is net minder as 363-miljoen-rand. Die burgemeesterskomiteelid vir Veiligheid en Sekuriteit, JP Smith, sê die direktoraat het ‘n goeie rekord van uitgawes, beleggings en dienslewering, in die wetstoepassings- en nooddiensomgewings:
# Krieket: Die Kolkata Knight Riders is nou tweede op die Indiese Premierliga se punteleer ná hul sege van een lopie teen die Royal Challengers Bengaluru. Kolkata het 222 vir ses behaal met kaptein Shreyas Iyer wat ʼn vyftigtal bygedra het. In antwoord daarop was Bengaluru op 221 almal uit in hulle sewende nederlaag uit agt wedstryde. Intussen het Sai Kishore in Mullanpur vier paaltjies platgetrek om die Gujarat Titans tot ʼn oorwinning van drie paaltjies oor die Punjab Kings te lei.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 19-rand-9-sent teen die dollar, 20-rand-36-sent teen die euro en 23-rand-65-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 65-duisend-657-dollar-41-sent. Die prys van goud is twee-duisend-372-dollar-7-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 86-dollar-60-sent per vat.
# En, om mee af te sluit: Die Rock and Roll-heldesaal het die name bekend gemaak van 16 sterre in die musiekbedryf wat vanjaar vereer sal word. Cher, Dionne Warwick, Ozzy Osbourne en Mary J. Blige is onder hulle. Osbourne word vanjaar ‘n tweede keer ingesluit; sy groep Black Sabbath is in 2006 vereer. Motown word ook gevier met die inlywing van die liedjieskrywer en vervaardiger, Norman Whitfield, wie se lys van treffers Papa Was a Rollin’ Stone en I Heard It Through the Grapevine insluit.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….